

ADVERTISEMENT:

News Date: 03 November 2006
Boere wat onwillig is om hul plase te verkoop het ses maande tyd om hul besluit te heroorweeg, andersins staar hulle onteiening in die gesig.
Dit was die waarskuwing wat Maandag tydens ‘n vergadering tussen die LUR van Landbou, me. Dikeledi Magadzi, die provinsiale Grondeisekommissaris, lede van die SAFM (South African Farm Management Project), vrywillige verkopers en eisers van plase op Levubu, aan onwillige verkopers uitgestuur is. Die boodskap is Dinsdag beaam deur die provinsiale woordvoerder van die LUR van Landbou, mnr. Khathu Sadiki.
"Die proses kan nie vir altyd aanhou nie. Dit is waarom ons hulle (onwillige verkopers) ses maande tyd gegee het om hul besluit te verander. Na ses maande sal die proses weer geëvalueer word en ooreengekom word oor ‘n verkoopprys. As dit nie gebeur nie, sal die Regering met geen ander keuse gelaat word as om die boer te onteien nie," het Sadiki gesê. Hy het hom ook skerp teen sommige boere wat blykbaar hul plase, wat gebuk gaan onder ‘n grondeis, doelbewus agteruit laat gaan deur op te hou boer en selfs infrastruktuur beskadig of verwyder, aangesien hulle nie omgee wat met die grond gebeur na dit aan die gemeenskappe teruggegee is nie. Dié beskuldigings is geopper deur lede van die eiser-gemeenskappe tydens Maandag se vergadering.
"As iemand dink hy gaan my oor ses maande van my plaas af sit op ‘n eis wat ek glad nie erken as wettig nie, dan sluk hy ‘n yslike wind," was mnr. Dries Joubert, voorsitter van die TLU SA Noord, se ewe sterkbewoorde reaksie op dié waarskuwing. Hy het dit ook duidelik gestel dat nie een van hulle eers na die vergadering genooi is nie.
"Hierdie eise op plase op Levubu is by verre nog nie bewys as wettig nie. Die wat vrywillig hul plase aangebied het vir verkoop erken die eis en die wat nie hul plase aangebied het vir verkoop nie, erken nie die eis nie. Dit is net die grondeisehof wat die finale besluit daaroor het. Die ou wat aantygings maak dat hulle my ses maande gee, is besig om deur sy nek te praat," het Joubert bygevoeg.
Joubert het ook gereageer op die bewering dat infrastruktuur wat vanaf geëiste plase verwyder of beskadig word, asook die kwessie rondom boere wat ophou boer.
"As iemand opgehou boer het, is dit sy saak; dit het niks met ‘n potensiële koper te doen nie. Hulle maak aantygings wat hulle nie kan bewys nie. Daar is geen sekerheid of die Staat enige persoon se grond gaan koop en wanneer en vir hoeveel nie," het Joubert gesê.
Ten opsigte van infrastruktuur wat verwyder word, was Joubert se antwoord: "As iemand bewerings maak dat eiendom verwyder word en dit is iemand anders se eiendom, dan moet hy ‘n diefstalklag lê. As ek eiendom van ‘n perseel verwyder wat nog nie verkoop is nie, of daar nog geen onderhandelings oor plaasgevind het nie, dan het dit niks met enige iemand te doen nie."
Aanvanklik het 12 gemeenskappe Levubu geëis. Die getal eisers is toe in ses groepe gekonsolideer, naamlik die Ravele-, Masakona-, Tshakhuma-, Tshitwane-, Tshivhazwalu- en Matumba-gemeenskappe. Alhoewel die eisproses volgens Sadiki reeds 80% voltooi is en as onomkeerbaar beskou word, is dit duidelik dat dit nie net ‘n kwessie van dreig en vat vanaf die Staat se kant gaan wees nie, veral nie volgens TLU SA nie.
"Dit mag so wees dat die proses onomkeerbaar is, maar die finale afhandeling sal by die grondeisehof plaasvind," het Joubert gesê.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
