

ADVERTISEMENT:

News Date: 03 November 2006
‘n Grondeis om die grond van die Buys-gemeenskap op te eis, is op 4 Augustus vanjaar in die Staatskoerant gepubliseer en het reaksies ontlok wat wissel van verontwaardiging, ongelukkigheid en woede tot ‘n versigtige optimisme.
Die gedeeltes wat geëis word, sluit in Buysplaats, Buysdorp en Mara. Die Buyshoek-gedeelte is nie by die eis ingesluit nie. Ongeveer vyf van die omliggende plase van boere is ook aan hierdie eis onderhewig. Die eiser is ‘n mnr. Serakalala.
Mense in die gemeenskap is verontwaardig omdat die plase in 1888 deur president Paul Kruger aan die Buyse gegee is, nadat hulle die Zuid Afrikaanse Republiek gesteun het .
Hulle het waardevolle diens gelewer as tolke, gidse, wadrywers, agterryers en veewagters, ook tydens die eerste Vryheidsoorlog (1880-1881) en ander oorloë. Gedurende die Anglo-Boere oorlog is hulle in aparte konsentrasiekampe in die destydse Pietersburg aangehou.
Die stamvader, Coenraad de Buys, se seun Michael Buys, het saam met Simon, Alexander, en Doors as wadrywer na Pretoria met die ossewa gereis en persoonlik die plase van die president ontvang.
"Een maand daarna, op 1 Julie 1988, is Michael oorlede," vertel Michael se agterkleinseun, mnr. Simeon Buys.
"Ook is die gebied aan die westelike punt van die Soutpansberg rondom Mara, wes van Louis Trichardt, ‘in ewigdurende besit’ aan die Buyse gegee. Hul nasate woon steeds daar op die nedersetting Buysdorp," berig Die Burger van 8 Julie 2001.
‘n Groot rede vir ongelukkigheid is die feit dat die gronde vir die eis nog nie van die Grondeisekomissie ontvang is nie. Mnr. Simeon Buys, wat ook voorsitter van die Bestuurskomitee van die Buysgemeenskap is, sê dat hulle die eisbrief deur middel van ‘n prokureur aangevra het, maar steeds nie ontvang het nie. Hy is egter optimisties dat die eis nie sal slaag nie. Na mediablootstelling kry hy oproepe van oor die land van mense wat nie kan glo dat daar ‘n eis teen die Buyse se grond kan kom nie.
Mnr. Alec Smail, ondervoorsitter van die bestuurskomitee, is egter minder optimisties.
"Waar is die regverdigheid? Ek het ook tydens die eerste vergadering van die Grondeisekommissie in September hierdie vraag gestel. Die eis is gepubliseer sonder enige navorsing en die kommissie sê dat die navorsing na die publisering gedoen moet word op onkoste van die grondeienaars," sê mnr. Smail.
Sommige mense voel regtig woedend.
"Eers was ons nie wit genoeg nie, en nou is ons nie swart genoeg nie," skets iemand die dilemma. "Hoe kan die grond geëis word van ‘n voorheen-benadeelde gemeenskap?; Waarom moet ons duur regskostes dra, terwyl die Staat die eisers bystaan met kostes?; en Wat wil hulle dan nou met ‘n hele gemeenskap maak indien die eis slaag?" is van die vrae wat gevra word. Mnr. Smail sê dat, alhoewel daar drie- tot vierhonderd mense op die Buysgrond woon, daar ses- tot seweduisend afstammelinge betrokke is.
Volgens mnr. Peet Symons, ‘n onderwyser by die Mara Primêre Skool, is die grond waarop die skool gebou is, nie betrokke nie, aangesien dit aan die Departement van Onderwys behoort. Wat die grondeis betref, voel hy dit is belangrik dat die korrekte prosedure deur die partye en die hof gevolg moet word.
"As die regte prosedures gevolg word, is daar minder as een persent kans dat die eis sal slaag," sê mnr. Symons.
Verskeie vrae wat in die gemeenskap se gemoed leef, asook die belangrike vraag rakende die gronde van die eis, is deur die Zoutpansberger aan die Grondeisekomissie gestel. Teen druktyd is daar nog nie antwoorde ontvang nie.
Die volgende vergadering met die Grondeisekommissie vind op 19 Desember plaas.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
