

ADVERTISEMENT:

News Date: 03 November 2006
‘n Polisie-inspekteur verbonde aan die SAPD op Makhado (Louis Trichardt), insp. Khathitshelo Sameul Muedi, is verlede week in die plaaslike landdroshof skuldig bevind op ‘n klag van roekelose bestuur.
Die saak teen Muedi spruit uit ‘n voorval op Woensdag, 4 Januarie, 2006, toe hy met sy polisievoertuig teen hoë spoed oor die kruising van Stubbs- en Krugerstraat gejaag het en met ‘n inwoner gebots het. Die polisievoertuig het deur die lug getol en het ‘n lamppaal omgestamp. Muedi en sy kollega het beweer dat hulle onderweg was om ‘n klag van gewapende roof te gaan ondersoek naby die Mountain View Hotel. Kort na die ongeluk is ‘n saak van roekeloos of nalatige bestuur deur die vrouebestuurder van die ander voertuig by die polisie aanhangig gemaak.
Muedi is op Donderdag, 26 Oktober, skuldig bevind op die klag van roekelose bestuur. Roekelose bestuur behels dat die bestuurder van ‘n voertuig doelbewus die veiligheid van persone of die veiligheid van eiendom in gevaar stel deur sy/haar gevaarlike bestuursvermoë. Muedi is ‘n boete van R6 000 of ses maande gevangenisstraf opgelê. Daarbenewens is sy rybewys vir drie maande opgeskort. Hy is ‘n verdere ses maande gevangenisstraf opgelê wat in geheel opgeskort is vir vyf jaar, op voorwaarde dat hy hom nie binne dié tydperk aan ‘n soortgelyke misdryf skuldig maak nie. Na wat verneem word lê die hof se uitspraak die basis vir ‘n siviele eis teen die polisie.

ADVERTISEMENT:
