ADVERTISEMENT:

 

Hengelaars wat die afgelope naweek die nuutgeboude Nando-ni-dam naby Thoho-yandou besoek het, was geskok oor die groot hoeveelheid nette wat hulle in die dam gevind het wat gebruik word om onwettig vis te vang.

Nandoni se visse vrot in nette

 

News  Date: 03 November 2006

 

Die kommerwekkende omvang van onwettige visvangste in die nuwe Nandonidam het vandeesweek skerp reaksie uitgelok. Kenners waarsku dat ‘n belangrike bron van volhoubare voeding en inkomste vernietig kan word deur dié onbeheerde en kortsigtige optrede.

Ontstoke hengelaars wat teruggekeer het ná ‘n besoek die afgelope naweek aan die dam, vertel van omvangryke roofvangste met gestelde en sleepnette deur astrante en aggressiewe ongelisensieerde visvangers.

Selfs onvolwasse vis word op massiewe skaal in kommersiële roofvangste uit die dam gebuit deur mense wat nette in die bolope en broei-sloepe stel. Die onvolwasse vis word op groot skaal op droograkke langs die dam markgereed gemaak. Van die nette, wat bootvaarte bemoeilik omdat dit regoor die dam gespan word en in bote se skroewe verstrengel raak, word bloot gespan en onbewaak gelaat. Dit bevat groot hoeveelhede dooie en verrotte visse.

Woordvoerders van Omgewingsbewaring het by navraag gesê hulle dra kennis van die probleem en is reeds besig met doelmatige optrede. Verskerpte wetstoepassing en ‘n omvattende pro-aktiewe inligtingsveldtog word vir die plaaslike gemeenskap beoog.

Die beampte in beheer van wetstoepassing by Nandonidam, mnr. Frank Motelo, het bevestig dat vier roofvissers verlede week by die dam aangekeer is en dat twee vandeesweek in die hof in Thohoyandou sou verskyn.

Motelo sê onlangse navorsingsvangste wat deur lede van die Pretoriase Universiteit met nette by die dam uitgevoer is, kon by sommige van die plaaslike bevolking die idee laat posvat het dat algemene vangste met nette toelaatbaar is.

Vandaar die uitgebreide skaal van die onwettige vangste.

Motelo sê benewens verskerpte wetstoepassing, word gemeenskapsvoorligtingsessies ook onderneem om die plaaslike bevolking op te voed in die verantwoordelike hantering van dié belangrike bron. Hy sê werkloosheid en armoede onder die plaaslike bevolking word dikwels aangevoer as ‘n verskoning vir die onwettige vangste.

"Alternatiewe armoedeverligtingsprojekte moet gevind word, wat nie die langtermyn volhoubare ontginning van hierdie belangrike bron in gevaar sal stel nie. Die behoud van die visbron is ook belangrik in die toekomstige ontwikkeling van die toerisme potensiaal, wat op sy beurt volhoubare werksgeleenthede vir die plaaslike bevolking kan skep. Die dam het die potensiaal om gereelde groot kompetisiebyeenkomste te lok, as die visbevolking toegelaat word om aan te was en dit oordeelkundig bestuur word," sê Motelo.

Die Vhembe streekshoof van die Departement Omgewingsake, mnr. Sam Mashele, het by navraag bevestig dat ‘n veelkantige inligtingsveldtog op die plaaslike gemeenskap toegespits gaan word, om hulle volledig in te lig oor die belangrikheid daarvan om natuurlike hulpbronne gedissiplineerd, planmatig en oordeel-kundig te benut. Die inligting- en bewusmakingsaksie sal met opgeskerpte wetstoepassing gepaardgaan. Oor onwettige netstellers wat aggressief teenoor wettige hengelaars en bootvaarders reageer, het mnr. Mashele belowe: "Ons sal hulle vasvat."

Roofvangste is ‘n wydverspreide probleem wat by die meeste groot damme in die streek ondervind word.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines