

ADVERTISEMENT:

News Date: 10 November 2006
"Maak die boere dood voor hulle groot word" het die Engelse boodskap op ‘n parkeermeter voor die poskantoor op Makhado (Louis Trichardt) gelees. Dié en ander dreigemente word geag die eerste vorm van haatspraak teenoor die Soutpansberg se blanke bevolking te wees.
‘n Inwoner wat toevallig by die parkeermeter verby gestap het, het die boodskappe raakgesien. Dit is dadelik met ‘n selfoon afgeneem. ‘n Paar meter verder is ‘n babaskoentjie met ‘n dooie vink binne die skoen gewaar en ook afgeneem. Volgens kenners het die vink in die babaskoentjie as een van die veelbesproke "Afrika-tekens" ‘n baie sinistere betekenis. Dié foto’s is toe gestuur aan die Louis Trichardt Boerevereniging, die Soutpansberg Distriks Lanbou-unie, asook die Zoutpansberger.
Die voorsitter van die Louis Trichardt Boerevereniging, mnr. Frits Ahrens, het die parkeermeter met die haatspraak-boodskappe daarop besoek. Iemand het egter die dooie vink en babaskoentjie kom verwyder.
Volgens Ahrens is dit die eerste vorm van haatspraak, intimidasie en opsweping wat in Makhado (Louis Trichardt) gevind is. Hy sê egter soortgelyke boodskappe is reeds in dorpe soos Ermelo en Standerton opgemerk.
Ahrens sê dat die nodige voorbereidings getref word om, indien hierdie haatspraak-dreigemente oorgaan in aksie, toe te sien dat die Plaaswagsteunkringe en Dorpswag sal kan teenkanting bied. Hy het gesê dat hulle die dreigemente in ‘n baie ernstige lig sien en dat hulle ‘n saak van haatspraak by die polisie aanhangig gaan maak.
In ‘n brief van mnr. Gideon Meiring, voorsitter van die Soutpansberg Distriks Lanbou-unie, aan die Makhado Munisipaliteit, beskryf Meiring die boodskappe as blatante opswepery en ‘n teken van groeiende rassehaat, konflik en intimidasie. Hy sê verder in die brief dat sulke haatspraak in ‘n ernstige lig gesien word, veral as daar gekyk word na die aantal plaasaanvalle en -moorde in en om Louis Trichardt. Meiring het afgesluit deur die hoop uit te spreek dat die Raad "nie by die barbaarse en leeghoofdige rassiste betrokke raak nie" en so gou moontlik die parkeermeter moet skoonmaak.
Dr. Phillip Venter, voorsitter van die Soutpansberg Dorpswag, het ook heftig gereageer op die voorval. Hy het die haatspraak-dreigemente gelykgestel aan ‘n bomdreigement en gevra dat owerhede dit met dieselfde erns sal hanteer. Volgens dr. Venter was die haatspraak openlik en is dit beklemtoon deur die Afrika-teken, maar dat mense moet verstaan dat nie alle swart mense hulle met die boodskap vereenselwig nie. In die lig van onlangse "dreigemente" teenoor prominente inwoners van die dorp het dr. Venter gevra dat inwoners die dreigement as werklik en ernstig beskou.
In reaksie op die voorval het insp. Thivhulawi Tshilate van die polisie se areakantoor in Thohoyandou gesê dat hulle die klag van haatspraak as baie ernstig beskou. Hy sê haatspraak soos hierdie as vorm van blatante rassisme maak inbraak op die Suid-Afrikaanse Grondwet en die regte van inwoners. Insp. Tshilate het inwoners versoek om enige inligting aan hulle te verskaf wat kan help om persone vas te trek wat hul skuldig maak aan haatspraak. Ahrens kan ook geskakel word met inligting by tel. 082 897 0068.

ADVERTISEMENT:
