ADVERTISEMENT:

 

Maaggogga sorg vir benoude toue by apteke

 

News  Date: 10 November 2006

 

As 15 mense op een dag apteek toe kom om pille teen maagwerkings te soek, dan is die pille uitverkoop en almal bespiegel oor dié skielike uitbraak van diarree …

Mnr. Leon Fensham van Da Silva Apteek sê dat daar Maandag hierdie week ‘n toeloop van mense was wat medikasie teen gastroenteritis gesoek het.

Dokter Wim de Villiers sê weer dat hy voorverlede week en verlede week saam ‘n stuk of 20 pasiënte vir hierdie goggas behandel het.

Nog ‘n apteker, mnr. Leon Bezuidenhout van Becks Apteek, sê dat dit nou redelik stil by hom is, so een tot twee pasiënte met maagklagtes per dag.

"Maar in September was dit elke tweede ou," sê mnr. Bezuidenhout.

Mnr. Gerrit du Toit van Du Toits Apteek sê dat hy nie so ‘n toename ondervind dat hy kan sê daar is ‘n spesifieke vlaag of krisis nie.

"Vir die afgelope 14 jaar kon ons die vlae diarree aan seisoene koppel, maar nou plat dit amper nie eers meer af in die winter nie," sê mev. Lynette Fensham, wat haar man in Da Silva Apteek assisteer.

"Daar is mense met sterk gestelle wat net ‘n bietjie ongesteld is, maar die klein kindertjies en die ou mense is werklik siek," sê mev. Fensham.

Dr. de Villiers sê dat hy die laaste twee weke heelwat babas se stoelgange weggestuur het vir ontleding. Hy sê dat diarree ‘n seisoenale voorkoms het en dus meer voorkom wanneer die seisoen van winter na somer oorskakel.

"Dit is maar dieselfde as met waterpokkies, wat nou weer voorkom wanneer mense hulle karavane begin uittrek," sê dr. de Villiers.

"Die ou mense het gepraat van die ‘appelkoosmaag’ aan die begin van die somer," sê Leon Bezuidenhout.

Of die diarree iets met die dorpswater te doen het, wil dr. de Villiers nie sê nie. Al wat hy sê, is dat die water so stink en dat as dit so aanhou, daar wel ‘n bom gaan bars.

Dit herinner aan die sogenaamde "Goot Stank" in London in 1858 toe die Teemsrivier se reuk derduisende uit die stad gedwing het. Die reuk en die groot cholera-epidemie van 1854 waarin 30 000 mense dood is, het die stadsvaders gedwing om nuwe riole te bou en die stad se water te beskerm. ‘n Regeringswebwerf lui dat in Suid-Afrika daar elke jaar 1.5 miljoen gevalle van diarree in kinders onder die ouderdom van vyf jaar voorkom. Die provinsies Limpopo, Mpumalanga, Oos-Kaap en die noorde van Kwazulu Natal is baie kwesbaar vir cholera.

Een inwoner vertel van die dilemma van mense wat probeer water spaar en dan die toilet net een maal per dag spoel.

"Dit is nou ‘n puik resep vir lelike goggas," sê die inwoner.

"Ons glo daaraan om net gebottelde water te drink en ons is nooit siek nie," is nog ‘n mening. ‘n Ander vertel egter van sy vrou wat siek geword het ten spyte daarvan dat sy nooit kraanwater drink nie.

Diarree word veroorsaak deur ‘n bakteriële infeksie, ‘n virusinfeksie of deur parasiete, ‘n voedsel intoleransie of ingewandsiektes. Die liggaam verloor water en elektroliete en dit moet vervang word om dehidrasie te voorkom.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines