ADVERTISEMENT:

 

Waardeerders help reeds fluks om “nuwe” belastings te bepaal

 

News  Date: 10 November 2006

 

Die waardering van eiendomme in die Makhado munisipale gebied om ‘n munisipale waardasierol saam te stel ingevolge nuwe wetgewing, is reeds aan die gang en vorder goed. Dit is die eerste waardasies wat plaasvind ingevolge die nuwe nasionale wetgewing en sal ‘n munisipale waardasierol daarstel waarvolgens munisipale belastings vanaf 2007 tot 2011 gehef sal word.

In ‘n omsendbrief wat by verlede maand se munisipale rekenings in Makhado ingesluit is, word geregistreerde grondeienaars se samewerking versoek om die waardeerder en sy personeel toegang te verleen tot persele wat gewaardeer moet word.

Volgens die bepalings van die tersake wetgewing mag die waardeerder en sy gevolmagtigdes enige perseel in die munisipale gebied betree en inspekteer vir waardasie doeleindes. Die besoeke mag op enige weeksdag (Sondae en openbare vakansiedae uitgesluit) tussen 07:30 soggens en 19:00 saans plaasvind.

Luidens die kennisgewing moet die waardeerder en sy personeel in besit wees van ‘n identiteitskaart met ‘n foto van die betrokke persoon en die skriftelike volmag van die Makhado Munisipaliteit. Die betrokkene mag vergesel word deur ‘n tolk of enige ander persoon wie se hulp hy redelikerwys mag benodig.

Die munisipaliteit se amptelike waardeerder, mnr. Tinus Nel van die onderneming De Leeuw Africa Property Valuers van Pretoria, het vandeesweek by navraag gesê die proses is reeds aan die gang en vorder goed. Waardasies is reeds afgehandel in Tshikota en in die Makhado Park woonbuurt en is nou aan die gang in Eltivillas. Die Sonop woonbuurt en die res van die dorp kom daarna aan die beurt. Residensiële sowel as kommersiële persele en plase word waardeer. Hy sê die waardasie van residensiële persele word hoofsaaklik gegrond op huidige markwaarde. Die totale waarde van grond en verbeterings sal vir belastingdoeleindes in aanmerking kom. In die geval van kommersiële persele word die waardasie gegrond op die inkomste-basis.

Mnr. Nel sê sy onderneming beskik oor volledige lugfotos van die dorp en oor al die perseelgroottes soos geregistreer in die Aktekantoor. Fisiese besoeke op die betrokke persele word bloot aanvullend tot die beskikbare akkurate gegewens onderneem.

Benewens die dorp Makhado (Louis Trichardt) word alle ander eiendom in die munisipale gebied tot by Levubu en ook Vleifontein en Waterval gewaardeer.

Oor die omvang van die nuwe munisipale belasting wat gehef gaan word, sê mnr. Nel dit sal bepaal word deur die belastingbeleid van die munisipaliteit, wat met die samewerking en goedkeuring van die gemeenskap vasgestel moet word. So ‘n beleid maak voorsiening vir ‘n vasgestelde basiese heffing van soveel sent in die rand ten opsigte van die totale waarde van die eiendom. Verskillende kategorieë belastingbetalers kan op grond van verskeie faktore vir sekere kortings in aanmerking kom.

Geen besonderhede oor die beoogde nuwe belastingstruktuur was vandeesweek beskikbaar nie.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines