

ADVERTISEMENT:

News Date: 17 November 2006
‘n Agtienjarige matriekleerling van Hoërskool Eric Louw op Musina, Stephan van der Merwe, is Saterdagoggend omstreeks 03:00 dood aan veelvuldige steekwonde, na ‘n mesaanval by die Impala Lily Motel op dié grensdorp.
Na bewering het die aanvaller, die 22-jarige Trevor Rudd van Musina, ‘n mes by die huis gaan haal kort nadat hy vir steke by die hospitaal moes gaan weens ‘n sny aan die voorkop. Hy het die sny vroeër die aand in ‘n geveg opgedoen het by dieselfde motel.
Na die geveg het Stephan en ‘n skoolvriend van hom, Chai Ngweremu, by die motel opgedaag. Toe Rudd weer teruggekeer het, het hy na bewering op die mense by die motel begin skreeu en op Ngweremu afgestorm.
Stephan, wat vermoedelik nie die mes gesien het nie, het voor Chai ingespring en in die proses ‘n diep meswond aan die arm opgedoen. In ‘n poging om die aanvaller te stuit, het hy hom met ‘n glas gegooi. Die aanvaller het hom blitsvinnig nog ‘n steekwond in die borskas toegedien en nog twee in die rug nadat Stephan probeer vlug het.
Onderweg na die hospitaal het Stephan aan sy wonde beswyk.
‘n Groep diep- bedroefde matrikulante moes vroeër die week, ongeag die groot tragedie, twee Geskiedenisvraestelle aflê, ‘n vak wat Stephan saam met hulle sou skryf. Stephan sou Maandag, 20 November, sy laaste vak, Rekenaarstudie, skryf.
Sy vriende sal hom onthou as ‘n lojale vriend, wat vir niks sou stuit om sy vriende te beskerm nie. Verder sal hulle hom onthou as ‘n kranige sportman, veral op die hokkie- en rugbyveld. Hy het hierdie jaar uitgedraf vir die skool se eerste seunshokkiespan en die tweede rugbyspan.

ADVERTISEMENT:
