ADVERTISEMENT:

 

Mnr. Piet du Plessis, hoof van Verre-Noord Kollege, sê hy het nie geweet privaatstudente kan nie vir die vak Reis en Toerisme registreer nie. Dié flater kos 12 matriekleerling by die kollege hul matrieksertifikate.

Matrieks eksamen geweier na “misverstand”

 

News  Date: 17 November 2006

 

‘n Flater met die vak Reis en Toerisme kos sommige matrieks hul matrieksertifikate.

Tendani Chuene is een van die studente wat geraak is. Hy was vanjaar ‘n student aan die privaat studie-inrigting, die Verre-Noord Kollege. Tendani was ook die kollege se beste student van die jaar en het die prys gedeel vir die beste Afrikaans tweede-taal student.

‘n Paar dae voordat hy die vak Reis en Toerisme sou skryf, is hy en 11 ander studente meegedeel dat hulle nie kon skryf nie. Hulle is nooit geregistreer vir die vak nie. Dit het later geblyk dat studente by private inrigtings wat as deeltydse studente geregistreer is, nie toegelaat is om vir Reis en Toerisme te registreer nie, omdat die vak ‘n praktiese komponent het. Volgens mnr. Netshia van die Onderwysdepartement se kantoor op Makhado (Louis Trichardt) moet vakke met ‘n praktiese komponent by voltydse inrigtings geneem word.

Die hoof van die Verre-Noord Kollege, mnr. Piet du Plessis, sê dat die probleem twaalf studente raak en dat hy ook bewus is van agt studente by die Sweetwater Deeltydse Sentrum en 60 studente van Tshasululo in Shyandima.

Du Plessis beweer hy het nie geweet dat privaatstudente nie vir Reis en Toerisme kon registreer nie. Hy sê dat hy weet van ‘n privaatstudent wat in die verlede Reis en Toerisme geskryf en deurgekom het en dat die praktiese komponent nie as ‘n vereiste gestel is nie.

Du Plessis sê verder dat die finale inskrywingsvorms eers aan die einde van September teruggekom het. Op die inskrywingsvorms was die vak Reis en Toerisme nie aangedui nie en hy sê dat hy onverpoosd gepoog het om die probleem op te los, maar misluk het.

Intussen is Tendani baie teleurgesteld. Hy is reeds 21 jaar en het dit as sy mikpunt gestel om hierdie jaar ‘n matrieksertifikaat te bekom. Tendani se moeder is in 2003 oorlede en sy oorlede ma se werkgewers, mnr. en mev. Harry en Sylvia du Plessis, het besluit om Tendani hierdie jaar met fondse by te staan sodat hy sy matriek kan slaag. Tendani het ook in die week by hulle gewoon en elke aand onder ma Sylvia se wakende oog studeer.

"Tendani kort nog net vier vakke vir sy matriek en Toerisme is een daarvan. Ek was so ontsteld toe hy nie kon skryf nie en ek het ‘n paar nagte nie ‘n oog toegemaak nie. Hoe sou jy gevoel het as dit met jou kind gebeur?" sê Sylvia.

Die ouers het ‘n brief ontvang wat sê dat daar reëlings getref is dat die kinders in Februarie by Capricorn College sou skryf. Die Onderwysdepartement het Sylvia egter verseker dat dit nie toegelaat sal word dat ‘n student wat as deeltyds geregistreer is, ‘n vak skryf met ‘n praktiese gedeelte nie.

Op 13 November het Du Plessis gesê dat die jongste verwikkeling is dat die kinders Toerisme in Junie volgende jaar deur FET in Polokwane sal kan skryf en dat die praktiese komponent moet bykom. Hy het gesê dat Tendani die enigste student is wat aan die kriteria voldoen om te kwalifiseer vir die kollege se geld-terug- waarborg skema.

Ma Sylvia voel egter sterk daaroor dat die Du Plessis homself betyds moes vergewis het van die vereistes waaraan Verre Noord Kollege moes voldoen het. Sy sê sy wil nie hê dat ander ouers en matriekleerlinge hulle in dieselfde verknorsing in die toekoms bevind nie. Tendani het hierdie week gesê dat hy graag ‘n toerleier in die Limpopo Provinsie wil word en dat hy verseker Reis en Toerisme wil skryf.

‘n Ander ouer van die kollege, mev. Miemie Bell, sê dat haar seun ook nie die vak kon skryf nie, maar dat dit hom nie so sleg getref het nie, aangesien hy besluit het om sy matriekvakke oor twee jaar te versprei. Mev. Bell voel op haar beurt dat Du Plessis sy bes gedoen het om die probleem op te los.

Mnr. Netshia het vandeesweek bevestig dat die Onderwysdepartement Verre-Noord Kollege se aansoek om registrasie ontvang het, maar dat hy nie weet hoe lank die proses sal duur nie. Du Plessis sê dat die Verre Noord Kollege volgens wet in 2008 FET status kry. Die kollege het in Julie vanjaar opgehou om ‘n steunsentrum vir Damelin Kollege te wees.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines