

ADVERTISEMENT:

News Date: 17 November 2006
Net enkele gevalle van "taxi-malaria" kom jaarliks langs die N1 buite die hoë-risiko malariagebiede in Limpopo Provinsie voor. Makhado (Louis Trichardt) is nie ‘n malaria-gebied nie, sê mnr. Phillip Kruger van die malaria beheersentrum op Tzaneen.
Mnr. Kruger het reageer op navrae na aanleiding van twee malaria gevalle wat onlangs op Makhado (Louis Trichardt) behandel is. ‘n Inwoner van die dorp, mnr.Koos Stols, is nog besig om aan te sterk nadat hy sowat ‘n maand gelede die siekte opgedoen het. ‘n Minderjarige kind word ook in die Louis Trichardt Gedenkhospitaal op die dorp behandel.
Mnr. Kruger sê in die geval van die volwasse man wat malaria opgedoen het, is daar rede om te vermoed dat ‘n "ingevoerde muskiet" daarvoor verantwoordelik kon wees. Hy sê dit gebeur dat malariamuskiete vanuit malaria gebiede in voertuie saamry en dan in skoon gebiede uitvlieg en mense daar kan besmet. Internasionaal staan dié verskynsel bekend as "lughawe malaria" omdat daar dikwels in malariavrye lande enkele malariagevalle in die onmiddellike omgewing van lughawens voorkom. Plaaslik word na die verskynsel verwys as "taxi-malaria" omdat die besmette muskiete dikwels in taxi’s oorgrens vanuit malariagebiede saamkom. Sulke enkele gevalle van ingevoerde besmetting is oral langs die N1 moontlik. Daar is jaarliks gemiddeld net vyf sulke gevalle onder die 5 000 tot 6 000 malaria gevalle wat in Limpopo voorkom.
Hy het ‘n vleiland in die omgewing van die tuiste van die volwasse malaria slagoffer uitgeskakel as moontlike besmettingsbron.
"Malariamuskiete broei nie in vleilande nie. Muskiete wat daar uitbroei, kan wel ‘n ernstige oorlas vir bewoners veroorsaak en dit is die verantwoordelikheid van die betrokke munisipaliteit om dit te hanteer." Hy sê Louis Trichardt is ‘n malariavrye gebied. As daar wel ‘n besmettingsbron in die omgewing van die vleiland sou wees, sou ‘n dramatiese uitbreking van die siekte binne enkele dae na mekaar daar voorgekom het en nie net een enkele geval nie.
Mnr. Kruger sê volgens sy inligting kom die minderjarige kind wat in die Louis Trichardt Gedenkhospitaal behandel word vanaf ‘n plaas in die Vivo-omgewing. Klein hoeveelhede malariamuskiete kom op plase in die Vivo-omgewing en ook langs die Sandrivier en Magalakwena-riviere voor. Van die malariabesmetting wat daar plaasvind, is dikwels afkomstig van malaria-besmette Zimbabwiërs wat op sommige van die plase werksaam is. Malariabeheer word gereeld op georganiseerde grondslag in die betrokke areas uitgevoer.
Malaria kom wel seisoenaal in die noordelike en oostelike dele van Vhembe voor en dit is nou die begin van die seisoen wat die hele somer tot in April aanstaande jaar in bekende malaria risikogebiede kan voortduur.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
