

ADVERTISEMENT:

News Date: 17 November 2006
‘n Ondersoek is aan die gang na ‘n werkbare model van belastingweerhouding ten opsigte van die Makhado Munisipaliteit.
‘n Plaaslike afvaardiging het die afgelope week teruggekeer van Swartruggens. Hulle het die dorp besoek om eerstehands kennis te neem van die stappe wat dié inwoners geneem het om die munisipaliteit te dwing om dienste te lewer en op te hou om geld te verkwis. Die doel is om soortgelyke stappe in Makhado(Louis Trichardt) in werking te stel.
Die afvaardiging het bestaan uit lede van die Soutpansberg Distrik Landbou-unie en ander belangegroepe in die dorp. Konsensus is bereik dat die plaaslike situasie nou drastiese optrede verg. Die voorsitter van die TLU SA Noord, mnr. Dries Joubert, het sy tevredenheid uitgespreek na afloop van die besoek aan Swartruggens Distrik Landbou-unie.
Die groep het reeds op ‘n basiese aksieplan besluit. Al die besluite wat tydens die besoek geneem is, sal gedokumenteer en aan afgevaardigdes vir kommentaar voorgelê word. Daarna sal ‘n vergadering belê word met ander lede van die gemeenskap, voordat ‘n volledige gemeenskapsvergadering byeengeroep word. Op die gemeenskapsvergadering sal die stigting van ‘n forum oorweeg word. Die doel van die forum sal wees om ondersoek in te stel na die terughouding van belastings, totdat die dorp weer na behore bestuur word.
Oor die beoogde nuwe munisipale belastingwetgewing, het Joubert gesê die nuwe waardasies en belastingstruktuur sal lei tot onbetaalbare belastings en maak oënskynlik deel uit van die regering se pogings om blankes finansieel te ruïneer.
Hy sê die proses in die aanloop van die nuwe munisipale waardasies was nie volgens die voorskrifte van die wet nie en behoort gevolglik nie toegelaat te word nie. Dit is duidelik dat raadslede hulleself ongekend verryk en die arme belastingbetalers moet maar net betaal. Joubert sê daar moet nou ‘n einde aan gemaak word.
Hy het ‘n beroep op die munisipale raad gedoen om nou reeds met die belastingbetalers in gesprek te tree en gewaarsku dat die regering se onvermoë om die regeerfunksie van die staat uit te voer, grootskaalse korrupsie en diefstal van belastingbetalers se geld meebring. Dit kan tot grootskaalse onrus lei.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
