ADVERTISEMENT:

 

‘n Werknemer van die provinsiale verkeersafdeling staan rustig en tuin natmaak met munisipale water.

Sommige spaar water, maar ander sproei

 

News  Date: 17 November 2006

 

‘n Inwoner wat sy voertuig vuil teruggekry het nadat dit by ‘n plaaslike motorhandelaar gelos is vir ‘n diens, moes hoor dat die handelaar nie meer gedienste motors mag was nie en dat hulle reeds daaroor beboet is.

Dit kom te midde van die munisipaliteit se waarskuwing dat inwoners met R2 000 beboet kan word indien hulle munisipale water gebruik vir enige ander doel as noodsaaklike huishoudelik gebruik. Die streng waterbesparing is deur die Raad ingestel vanweë die swak toestand van hul watervoorsieningsinfrastruktuur.

Dié streng optrede het egter vrae laat ontstaan oor verskeie staatsinstansies in die dorp, soos die toerisme informasiesentrum en die kantore van die provinsiale verkeersafdeling wat water skynbaar ‘n onuitputbare bron is en gebruik word om tuine nat te maak en voertuie te was.

Die Zoutpansberger het Maandag ‘n paar foto’s gaan neem by die kantore van die provinsiale verkeersafdeling. Daar aangekom was ‘n werknemer rustig besig om ‘n voertuig met ‘n tuinslang te was. Toe die man egter die kamera gewaar, het hy vinnig die tuinslang neergegooi en wou by die koerant weet wie toestemming gegee het dat foto’s geneem mag word.

By die toerisme inligtingsentrum word ‘n boorgat gebruik om dag en nag die tuine nat te maak. Alhoewel daar van ‘n boorgat gebruik gemaak word, is dit ook nie ‘n onuitputbare bron van water nie.

In antwoord op klagte van inwoners het die munisipaliteit se Direkteur Tegnies Dienste, mnr. Masindi Mapholi, gesê hy dra nie kennis van die karwassery by die provinsiale verkeersafdeling nie, maar dat hy dadelik die probleem sal aanspreek. Hy sê dat sou hulle wel uitgevang word dat hulle munisipale water gebruik vir tuin natmaak en die was van voertuie, hulle vervolg sal word.

Wat betref die boorgatkwessie het Mapholi gesê dat dit nie dadelik aangespreek sal kan word nie. Hy sê daar moet tyd gegun word om ‘n impakstudie te doen oor hoe die watertafel deur die gebruik van boorgate beïnvloed word. Sou die uitslag wys dat die watertafel dramaties geaffekteer word, sê Mapholi dat beperkings op die gebruik van die boorgat wel geplaas kan word. Mapholi het gesê hy sal in die eerste week van Desember terugvoering kan gee oor die boorgatwater kwessie.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines