ADVERTISEMENT:

 

Dorpswag maan lede om verantwoordelik op te tree

 

News  Date: 17 November 2006

 

Dr. Philip Venter, voorsitter van die Soutpansberg Dorpswag sê die Dorpswag distansieer hulle van lede wat onverantwoordelik optree.

Dit volg nadat twee Dorpswagvoertuie die afgelope naweek in ‘n ernstige botsing met mekaar betrokke was. Die ongeluk het Saterdag omstreeks 02:00 op die hoek van Devenish- en Kroghstraat plaasgevind.

Na wat verneem word het ‘n jong Dorpswaglid teen hoë spoed agter in ‘n tweede Dorpswagvoertuig, wat besig was met patrollie in Sektor 2, vasgejaag. Die jong bestuurder van die voertuig wat die ongeluk veroorsaak het, met vier ander insittendes, het na die ongeluk beweer hy was aan diens en was onderweg na ‘n insident. Alhoewel dit later aan die lig gekom het dat hy wel aan diens was, het niemand anders kennis gedra van die insident waarna hy verwys het nie. Die jong bestuurder het sy been gebreek, terwyl die ander insittendes in sy voertuig ligte beserings opgedoen het.

Venter was self kort na die ongeluk op die toneel. Intussen het die polisie reeds met hul ondersoek begin.

Venter het Maandag gesê dat die ongeluk as waarskuwing moet dien vir Dorpswaglede en dat hulle meer verantwoordelik moet optree. Hy sê die Dorpswag kan hulle nie met sulke optrede vereenselwig nie en dat die Dorpswag hulle distansieer van lede wat onverantwoordelik optree of die gereg in eie hande neem. Buiten vir moontlike kriminele klagte, kan oortreders ook siviele eise in die gesig staar, het Venter gewaarsku.

Volgens insp. Ndwamato Vele, plaaslike polisiewoordvoerder, word ‘n saak van roekelose of nalatige bestuur ondersoek. Daar is ook van die jong bestuurder se bloed getrek om te bepaal of hy onder die invloed van alkohol was toe die ongeluk plaasgevind het.

Venter het bygevoeg dat, buiten vir die polisie-ondersoek na die voorval, die Dorpswag ook ‘n interne ondersoek gaan hou. Die voertuig van die jong bestuurder is totaal afgeskryf in die ongeluk, terwyl die ander voertuig, ‘n bakkie, erg beskadig is.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines