ADVERTISEMENT:

 

Goeie reën is pure plesier

 

News  Date: 24 November 2006

 

Die deurdringende reënneerslae van die afgelope naweek is beskryf as "pure plesier" en die boere is vervul met dankbaarheid.

In die Levubu-streek het dit in die algemeen sowat 100mm gereën die naweek. By die Amana Boerdery op Levubu is 92mm gemeet.

"Ons is so in ons skik! Ons was nie in die nood nie, maar dit was so wonderlik. Die 30mm tot 50mm wat ons vooraf gekry het, het op die korttermyn gehelp. Nou met die pragtige neerslae is die ondergrondse water ook goed aangevul," sê mnr. Dries Joubert, voorsitter van TLU SA Noord en ook self ‘n boer op Levubu.

Op Louis Trichardt is 105.7mm vir die afgelope naweek gemeet by die munisipale reënmeter. Die vorige twee metings was 12.7mm op 6 November en 17.5mm op 14 November.

Die Albasinidam se vlak, wat verlede week op 63.86% gestaan het, is volgens die Departement Watersake en Bosbou vandeesweek op 53.71%. Die damvlak in meters het gesak vanaf 14.83m tot 14.81m. Die Departement se kantoor op Tzaneen het bevestig dat die persentasie lesing wat hulle ontvang het 53.71% is, maar die hoop beskaam nie dat dit tog maar ‘n lesingfout was nie.

Die Vondodam het gesak vanaf 87.15% verlede week tot 86.69% op Maandag (20ste). Die Nandonidam se vlak in meters het gestyg vanaf 29.51 na 29.64 en 44mm reën is gemeet. Die persentasie van die damvlak is nie aangedui nie.

By die Nzheleldam is 30mm reën gemeet, maar nogtans het die damvlak ‘n effense daling getoon vanaf 84.25% tot 83.96%. Die Luphephe- en Nwanedidamme het beide effens gedaal; die Luphephe was verlede Maandag 80.31% en staan hierdie Maandag op 79.72%, terwyl die Nwanedi met 0.73% gedaal het tot 77.04%

Goeie reënneerslae is ook in Mara ontvang, terwyl sommige kleiner brûe die naweek toe was onder die water.

Volgens Joubert is die Bosvelddele en Legkraal ook groen na die lekker reën.

"Daar is dele wat tot 50mm ontvang het en dit het absoluut betyds gekom. Die dele van die weiveld wat ‘n knou gekry het, is nou gered, ten spyte van kolletjies wat oorgeslaan is met die reën," sê Joubert.

Joubert glo en hoop dat daar goeie opvolgreën sal wees.

"Ons kom nie uit ‘n noodtoestand nie en ons behoort ‘n gemaklike landboujaar tegemoet te gaan," sê Joubert.

Die damme in Limpopo se gemiddelde persentasie was verlede jaar in November 36%. Hierdie week is die gemiddelde persentasie van alle damme in die provinsie 61% met ‘n 62% verlede week.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines