ADVERTISEMENT:

 

Die groot ongelukkigheid rondom die grondeis op die Buysdorpgrond en Vivoplase vind weerklank in die nasionale media met die span van Fokus hierdie week in die omtrek. In die foto is mnr. Simeon Buys, die voorsitter van die Bestuurskomitee (BK) van Buysdorp, wat ook die span van Fokus te woord gestaan het.

Nasionale fokus op omstrede Buysdorp-eis

 

News  Date: 24 November 2006

 

Die groot ongelukkigheid rondom die grondeis op die Buysdorpgrond en Vivoplase vind weerklank in die nasionale media met die span van Fokus hierdie week in die omtrek.

Intussen staan beide die Vivo Grondeienaarsforum sowel as die Bestuurskomitee van Buysdorp die eis teë.

"Ek dink nie dat die grondeis meriete het nie, maar dit moet nog in ‘n hof getoets word. Die besluit lê nie by ons nie, maar ek dink die kanse vir die eis om te slaag is gering," het mnr. Charles Pieterse, regsverteenwoordiger vir die Vivo Grondeienaarsforum, verlede week gesê. Die Vivo Grondeienaarsforum is sowat vyf maande gelede gestig. Pieterse het ook gesê dat die Grondeisekomissie uiteindelik op sy skrywe geantwoord het, alhoewel hulle antwoord onvolledig was.

Die voorsitter van die Vivo Grondeienaarsforum, mnr. Japie van der Goot, het gesê dat dit ironies sal wees as die staat weer sê dat die boere die proses vertraag.

"Die staat se goed is regtig nie in plek nie. Ons verlang inligting om te weet op grond waarvan die Serakalala- en Kibi-groepe die grond eis. Voor ons nie die inligting het nie, kan die antropoloë nie hulle verslae opstel nie. Dit is soos wanneer iemand jou dagvaar in ‘n hof, maar nie sê waarvoor sodat jy jou kan voorberei nie," het mnr. Van der Goot gesê.

Van der Goot het gesê dat dit lyk of die stamme splintergroepe was wat by tye daar gewerk of gewoon het.

Dit is beaam deur mnr. Lasie Weston, voorsitter van die Algemene Vergadering (AV) van Buysdorp. Mnr. Weston vertel dat die Serakalala-groep uitwissing deur ‘n stam in Blouberg in die gesig gestaar het en toe kom vra het vir herberg in Houtrivier. Hulle het gevra om tydelik daar te bly tot die gevaar van die rampokkers getaan het.

"Deur die goedhartigheid van die ou mense op Buysdorp het hulle die versoek toegestaan. Later het die Serakalala-groep self besluit om weer te loop," sê mnr Weston. Hy het ook mooi verduidelik dat die eisers se eis by die Sandrivier begin, dan wes beweeg na Lesheba Wildernis, wat ingesluit is by die eis, en dan na die berg toe tot by Kranspoort. Die Kranspoort gedeelte, waar daar alreeds ‘n geslaagde grondeis was, word oorgeslaan.

"Hulle spring oor Kranspoort en eis dan tot by Buysdorp en wes tot by Van der Goot se plaas en kom dan terug tot by die Yorkpad, regs (suid) af tot by die Kloppers se plaas en dan verby tot op Leyden, terwyl hulle sekere plase oorslaan," sê mnr. Weston.

As voorsitter van die AV sê mnr. Weston dat hy weet dat die regering baie regverdig is, maar dat "dit wat nou hier gedoen word, baie onregverdig is."

Die span van Fokus het onder meer die voorsitter van die Bestuurskomitee (BK) van Buysdorp, mnr. Simeon Buys, te woord gestaan. Mnr. Buys het aan Fokus gesê dat daar baie stukke staatsgrond is wat onbenut lê en dat die regering daarna kan kyk as Serakalala ernstig is om te boer.

"Los vir Buysdorp in vrede tot en met die wederkoms van die Here," het mnr. Buys gesê. Hy het ook Dinsdag (21ste) aan Zoutpansberger gesê dat die Buyse toentertyd (1888) die grond van President Paul Kruger gekry het deur hul gebede.

"Nou moet ons ook volhard in gebed en geloof," sê mnr. Buys.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines