ADVERTISEMENT:

 

Dié beweerde munisipale werker moes gaan verduidelik hoe hy in besit gekom het van die rol koperdraad in sy hande wat hy besig was om skoon te brand.

Koperdraaddiewe teiken ghlofbaan

 

News  Date: 24 November 2006

 

"Hierdie mense weet wat hulle doen, hulle is professioneel".

Dit was die woorde van mnr. André de Bruin, baanopsigter van die plaaslike gholfbaan, nadat die klub verlede week die teiken geword het van genadelose kabeldiewe. Verskeie elektriese kabels is deur die booswigte op 16 en 17 November van hul waardevolle inhoud gestroop. Die misdadigers het selfs die vermetelheid gehad om die woord izinyoka (slange) op een van die setperke uit te krap. Die verwysing na izinyoka is afkomstig vanaf ‘n nasionale advertensieveltog teen koperdiefstal waar daar na die booswigte verwys word as slange.

Mnr. De Bruin het eers Vrydagoggend onraad gemerk toe hy uitgegaan het om die gholfbaan se besproeiingspompe aan te skakel. By die een pomp het hy afgekom op die omhulsel van een van die gestroopte koperkabels. Die booswigte het klaarblyklik eers die pomp oopgemaak en die elektrisiteitsverbinding gediskonnekteer, waarna hulle die koperkabel na die pomp uit die grond getrek het. ‘n Dag later het hulle blykbaar teruggekeer en die munisipale kragkabels geplunder wat elektrisiteit aan die klub voorsien.

Mnr. De Bruin sê die booswigte was goed toegerus en het geweet wat om te doen en presies waar om te sny om beserings of moontlike dood te voorkom.

Intussen het die Zoutpansberger Maandag ‘n toneel besoek (naby die spooroorgang in Kortstraat) wat deur koperdraaddiewe gebruik word om gesteelde kabels skoon te brand. Terwyl die joernalis saam met die polisie op die toneel was, is daar afgekom op ‘n man wat beweer het hy is ‘n munisipale werker, terwyl hy besig was om koperdraad te brand. Net daarna het daar ‘n jong kind verby gekom met ‘n sak waarin die polisieman ook fyn koperdraad gevind het.

Op ‘n vraag aan die man oor waar hy die kabel gekry het, het die man gesê hy het dit nie gesteel nie, maar in ‘n asblik gevind. Later is die man, met sy handvol koperdraad, met die vangwa polisiestasie toe.

Koperdraaddiefstal en skade aan infrastruktuur het reeds krisisomvang in die streek aangeneem. Tydens die Soutpansberg Dorpswag se algemene vergadering Dinsdagaand het die voorsitter, dr. Phillip Venter, ‘n beroep gedoen op lede om baie meer oplettend te wees tydens patrollie. Hy het ook lede versoek om na vore te kom met inligting oor moontlike skrootwerwe wat die gesteelde koperdraad koop. Hy het geargumenteer dat solank daar iemand is wat daarvoor betaal, sal die diefstalle voortgaan.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines