

ADVERTISEMENT:

News Date: 01 December 2006
Die veelbesproke "deposito slenter" het weer die afgelope week kop uitgesteek op Makhado (Louis Trichardt).
‘n Maatskappy, met die naam J&J Konstruksies, word klaarblyklik as front gebruik vir die slenter. Op Dinsdag, 28 November, is dié maatskappy se naam gebruik om Eden Oil hier en die Caltex Depot in Polokwane uit duisende rande te probeer bedrieg.
Amanda van Eeden, eienares van Eden Oil het vertel hoe ‘n maatskappy, wat hulself J&J Road Maintenance genoem het, hulle geskakel het en ingelig het dat ‘n betaling van R35 250 verkeerdelik in Eden Oil se rekening inbetaal is. Die betaling is klaarblyklik omgeruil met dié van ‘n ander maatskappy. "Bewys" kon gelewer word van ‘n internet-inbetaling, maar toe Eden Oil verdere navrae by die bank doen het die bankstaat gewys dat die betaling per "tjek" gedoen is. Die tjek was verder in die naam van J&J Konstruksie en nie in die naam van J&J Road Maintanance nie. Gelukkig vir Eden Oil is die geld nooit "terugbetaal" nie.
In die Zoutpansberger van 29 September is daar berig oor ‘n maatskappy wat as S&S Konstruksie bekend gestaan het, wat by wyse van ‘n inbetaalslenter ‘n besigheidsman, mnr Fanie Burger, uit bykans R38 000 wou bedrieg. Mnr. Burger het gelukkig nie vir die slenter geval nie. Die vermoede bestaan dat dit dieselfde sindikaat is wat Eden Oil uit duisende rande wou bedrieg. Besighede wat wel die geld terugbetaal wat "verkeerdelik" in hul rekenings gedeponeer is, vind na die tyd uit dat die aanvanklike betaling met ‘n gesteelde tjek gemaak is en dat geen geld dus aanvanklik inbetaal is nie. Teen daardie tyd is die rekening (wat onder vals name en adresse oopgemaak word) waarin hulle die geld inbetaal het, ook reeds deur die booswigte leeggemaak. Die besigheid het daarna geen manier om weer die geld terug te kry nie.
Me. Van Eeden sê die saak is nie by die polisie aangemeld nie, maar dat die bank wel van die voorval in kennis gestel is. Sy het ander besighede gewaarsku om nie vir die slenter te val nie en dadelik enige soortgelyke navrae met hul banke uit te klaar.
In reaksie op die voorval het plaaslike polisiewoordvoerder, insp. Ndwamato Vele, maatskappye versoek om dadelik sulke voorvalle aan te meld. Hy het ook gevra dat mense met inligting oor die persone wat betrokke is by hierdie slenters, dit aan die polisie sal deurgee. Die polisiestasie kan geskakel word by tel. (015) 519 4421.

ADVERTISEMENT:
