

ADVERTISEMENT:

News Date: 08 December 2006
Die opspraakwekkende "bobbejaan-moordsaak" teen ‘n boer van Musina, mnr. Jewell Crossberg (52), is in die hooggeregshof in Polokwane uitgestel tot April 2007.
Crossberg staan tereg op ‘n aanklag van moord op ‘n 29-jarige Zimbabwiese man, mnr. Jealous Dube, wat op 21 Junie 2004 beswyk het aan ‘n koeëlwond. Hy is met ‘n .38 Special rewolwer geskiet en onder die linkerarm getref.
Volgens getuienis in die hof het Crossberg beweer dat hy skote afgevuur het om bobbejane te verwilder. Dube is in die voorval getref.
Superintendent Willem Visser het getuig dat net twee skote uit die betrokke vuurwapen afgevuur is. Dube is regstreeks getref. Dit was nie ‘n wegskramkoeël nie. Visser het ook getuig dat ‘n mens normaalweg nie ‘n rewolwer sou gebruik om diere mee te jag nie.
Die Staatsaanklaer, adv. Sam Ngobeni, het die staat se saak teen Crossberg afgesluit.
Onder kruisverhoor deur adv. Jaap Cilliers, vir die verdediging, het Crossberg gesê hy het nie bobbejane gejag met die rewolwer nie. Bobbejane veroorsaak heelwat probleme op die plaas en hy wou hulle bloot verwilder met die rewolwer.
Die verdedigingspan het versoek dat die saak uitgestel moet word, sodat al die getuies vir die verdediging gereed gekry kan word.

ADVERTISEMENT:
