

ADVERTISEMENT:

News Date: 08 December 2006
Nog geen verdagtes is aangekeer in verband met die gewapende roof by die Fire Fly kafee in Industriastraat in Makhado (Louis Trichardt) die afgelope naweek nie.
Kort nadat ‘n sekuriteitsbeampte die perseel Saterdagoggend (2de) verlaat het met twee sakke geld, is hy voor die winkel deur ‘n gewapende man gekonfronteer.
Die sekuriteitsbeampte het hom teen die rower verset en ‘n hewige worsteling het ontstaan. Kort hierna het ‘n tweede verdagte opgedaag en by die struweling betrokke geraak.
Mev. Isabel José van Fire Fly het Woensdag vertel dat sy die hele worsteling tussen die sekuriteitsbeampte en die verdagtes aanskou het. Dit was eers nadat daar ‘n skoot afgevuur is, vertel mev. José, dat die sekuriteitsbeampte die geldsakke gelos het en die kafee binnegevlug het.
Die gewapende mans het die sakke geld gegryp en in ‘n swart Polo Classic in die industriële area in verdwyn.
Na die rooftog gerapporteer is, het lede van die Soutpansberg Dorpswag gehelp om op die uitkyk te wees vir die verdagte voertuig. ‘n Voertuig is wel later deur die polisie afgetrek. Volgens ooggetuies op die toneel het die voertuig ‘n GP-registrasienommer gehad. Die voertuig wat later afgetrek is, het wel ‘n N-registrasienommer gehad, maar daar is steeds besluit om die registrasie uit te klaar, aangesien ‘n nommerplaat maklik geruil kan word. Die voertuig het egter "skoon" gewys.
Volgens kapt. Thivhulawi Tshilate, polisiewoordvoerder in die Vhembe-streek, word daar gesoek na vermoedelik drie verdagtes. Dit was moeilik om ‘n spesifieke bepaling van die getal verdagtes te kry, aangesien die voertuig wat in die roof gebruik is se vensters swart getint was. ‘n Groot hoeveelheid geld is in die roof gebuit.
Die Fire Fly-voorval is die jongste in ‘n reeks rooftogte in die dorp die afgelope drie maande. Op 4 September word Cook’s Corner geroof en slegs drie dae later was die Makhado Munisipaliteit die slagoffer. Op 17 Oktober loop Desai Cash & Carry deur en op 15 November word Soutpansberg Koelkamers geroof. Buiten vir die Isofo-roof vroeër vanjaar waartydens verdagtes aangekeer is, is daar nog geen terugvoering van die polisie oor die arrestasie van verdagtes in die andere rooftogte nie.
Tshilate het lede van die publiek versoek om na vore te kom met inligting wat kan help om die rowers aan te keer. Persone met inligting kan die plaaslike polisiestasie skakel by tel. (015) 519 4300.

ADVERTISEMENT:
