ADVERTISEMENT:

 

Boere mor oor “onregmatige” arrestasies

 

News  Date: 08 December 2006

 

Die bevelstruktuur van die Suid-Afrikaanse Polisiediens sal voortaan persoonlik aanspreeklik gehou word vir alle voorvalle van onregmatige arrestasie in die Limpopo Provinsie.

Woede oor die voortgesette polities- en rassisties-gedrewe onregmatige arrestasies van lede van die blanke boerderygemeenskap is weer dringend skriftelik onder die aandag van Polisiekommissaris Jackie Selebi gebring.

Die aangeleentheid is ‘n jaar gelede ook op die hoogste vlak aangemeld. Kommissaris Selebi het toe daarop gereageer met ‘n omsendskrywe aan alle polisiestasies onder die opskrif "Instruksies met betrekking tot arrestasies en aanhouding van verdagtes". In die omsendskrywe is lede baie duidelik gewaarsku teen onregmatige arrestasies.

Die Voorsitter: Veiligheid van die TLU SA, mnr. Gideon Meiring, wys in ‘n brief daarop dat Kommissaris Selebi se vroeëre ondernemings ten opsigte van arrestasies ooglopend nie deur die mense onder sy bevel en aanvoering eerbiedig word nie. Hy verwys, as voorbeeld, na die onlangse geval van mnr. Johan Pretorius van Northam wat onregmatiglik in hegtenis geneem is. Al sy wapens is terselfdertyd weggeneem. Die saak teen hom is teruggetrek en hy kan nou sivielregtelik stappe neem.

In die jongste voorval op Dendron, met ondersoekbeampte kapt. Ngele, is ‘n boer van die plaas Donsana, mnr. Johan van Rensburg, in hegtenis geneem en toegesluit en al sy wapens verwyder, toe ‘n omstrede aanklag nege dae ná ‘n beweerde insident teen hom gebring is.

Volgens die beskikbare inligting is die klaer, ‘n plaaswerker, op 20 November met dissiplinêre stappe gekonfronteer, na aanleiding van ‘n insident op 16 November, toe hy na bewering aan diens geslaap het. Op 22 November het die klaer saam met ‘n polisievrou op die plaas opgedaag en na bewering geëis dat die klaer geldelik vergoed word weens sy ontslag. Die klaer en die lid van die SAPD is weggewys en versoek om nie met private, huishoudelike interne arbeidsaangeleenthede en dissiplinêre prosedures in te meng nie. Ten tyde van dié besoek was daar geen sprake van ‘n skietvoorval nie.

Op 24 November is toe ‘n klag by Dendron polisiestasie gelê.

Mnr. Van Rensburg was die naweek van 24 ot 26 November uit die gebied en met sy terugkeer het hy verneem van die klagte teen hom. Hy en sy prokureur het op 27 November verskeie kere probeer kontak maak en by die polisiestasie op Dendron aangrmeld. Die ondersoekbeampte was toe nie beskikbaar nie.

Op 28 November het mnr. Van Rensburg weer by die SAPD op Dendron aangemeld, waarop hy summier in hegtenis geneem is deur kapt. Ngele, wat ook op al sy wapens beslag gelê het.

Mnr. Meiring sê hy het ‘n aantal boere gemaan om kalm te bly en die reg sy gang te laat gaan, maar ernstige woede heers onder ‘n gemeenskap wat voel dat die SAPD partydig is en op gefabriseerde klagtes reageer. Daar is ook ‘n toenemende persepsie dat die SAPD self van dié gefabriseerde klagtes inisieer.

"Die polisie op Dendron is duidelik daarop gewys dat die ‘beskuldigde’ ‘n bekende vaste adres het en nie ‘n vlugrisiko is nie. Die aangeleentheid is ook met provinsiale kommissaris Sengani opgeneem, wat die indruk geskep het dat tot elke prys teen Van Rensburg opgetree moet word.

"Direkteur Morkel het in opdrag van Kommissaris Sengani na my teruggekom en daarop gewys dat die ‘saak’ teen mnr. Van Rensburg meriete het, hoewel hy dit nie mag bespreek nie. Op ‘n vraag waarom die man toegesluit moet word, het hy doodgewoon geantwoord dat dit die gebruik is en dat die hof sal beslis oor borgtog. Ek het die gevoel gekry Direkteur Morkel probeer polities korrek optree en byna arrestasie en aanhouding heimlik aanmoedig. Sou mnr. Van Rensburg onskuldig bewys word, is dit my en my organisasie se ernstige wens dat Direkteur Morkel, asook die ondersoekbeampte, as individue die blaam vir sodanige onregmatige arres behoort te dra," het Meiring gesê.

Mnr. Meiring het by navraag bevestig dat samesprekings op hoë vlak vandeesweek aangevra is om die voortgesette onaanvaarbare gedrag van polisielede te bespreek.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines