

ADVERTISEMENT:

News Date: 08 December 2006
Sprake van grootskaalse bedrog en korrupsie en amptelike toesmeerpogings binne die Makhado Munisipale Raad word vervat in ‘n mediaverklaring waarin die TLU SA Noord aandring op die onmiddellike vrystelling van ‘n verslag oor onreëlmatige berekeninge en uitermate hoë verhogings in toelaes van raadslede.
Die moontlikheid van ‘n ondersoek na SALGA se moontlike betrokkenheid in die aangeleentheid word ook genoem.
Die voorsitter van die TLU SA Noord, mnr. Dries Joubert, sê die eerste skriftelike versoek vir die verslag is reeds op 4 Oktober gerig aan die ouditeursfirma wat die ondersoek na onreëlmatighede behartig het. Op dieselfde datum is die Makhado munisipale bestuurder ook versoek om ‘n afskrif van die verslag aan die TLU SA se streekkantoor te oorhandig. Mnr. Joubert sê daar is nog nie eers erkenning van ontvangs van die brief ontvang nie.
"Die verslag is nog nie aan die Makhado Munisipale Raad voorgelê nie. Bronne het aangedui dat alhoewel die Munisipale Bestuurder die verslag aan die Raad wou voorlê, sekere raadslede dit verhoed het."
Mnr. Joubert het raadslede gewaarsku dat hulle dalk, sonder hul medewete, beskou kan word as betrokke by grootskaalse bedrog en korrupsie. Hy het raadslede gewaarsku dat TLU SA Noord nie sal rus totdat die inhoud van die verslag aan die publiek bekendgemaak is nie.
"Regstappe sal oorweeg word om, indien bedrog bevind word, die geld wat op die skynbaar onwettige manier bekom is, te laat terugbetaal."
Mnr. Joubert sê die beweerde betrokkenheid van SALGA in die saak sal ook ondersoek word.
Mnr. Joubert sê TLU SA Noord sal nie toelaat dat moontlike bedrog of foutiewe berekeninge die belastingbetalers miljoene rande uit die sak jaag nie. Hy sê die bekendstelling van die verslag is nou dringend noodsaaklik.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
