ADVERTISEMENT:

 

"Ons sal nooit weer vry voel nie"

 

News  Date: 24 September 2004

 

LEVUBU - ‘n Jaar na die wreedaardige moord op mnr. Piet de Jager ontvang die gesin steeds geen terugvoer oor wat met die vermeende moordenaars gebeur het nie.

Op 27 September verlede jaar het tragedie Levubu vir die soveelste keer getref. Plaasaanvallers het weer toegeslaan. Mnr. De Jager (65) van die plaas Laatsgevonden sterf in sy seun, Herman, se arms. Die oorsaak van sy dood: skote vanuit die wapens van ‘n moordbende. Sy laaste uitroep waarsku sy vrou, Lenie, en twee kleinkinders sodat hulle die dood ontkom.

Een-en-vyftig weke later is Lenie (61) nog baie hartseer.

“Dit voel vir my soos gister. Dit is vreeslik om te dink dat hy vermoor is. Dis moeilik om dit te verstaan. Eers was dit ‘n onwerklikheid, maar met die verloop van tyd het dit ‘n werklikheid geword: Piet sal nie weer terugkom nie.”

Wat dit veral vir Lenie moeilik maak, is die feit dat alles nog so in die lug hang, met dié dat daar geen terugvoer oor die vermeende moordenaars is nie.

“’n Mens kan niks agter jou kry nie, want daar gebeur niks nie. Dit is bitterswaar,” sê sy. Sy voel asof sy belangstelling in alles verloor het. Die moord op haar man was ‘n ingryping in haar hele lewe. En niks word afgehandel nie.

Herman sê dat hy die verklaring oor die moord afgelê het op 28 September verlede jaar.

“Van daardie dag af tot vandag het ons nog geen terugvoer van die ondersoekbeampte se kant gekry nie.” Die De Jagers het by hul laaste navrae verneem dat die moordenaars in die tronk in Thohoyandou aangehou word, maar is nie amptelik in kennis gestel of hulle ooit aangekla is nie.

“’n Paar maande terug het ‘n aanklaer vir ons uitgevind dat hulle verhoorafwagtend is. Vir al wat ek weet, is hulle nou op parool uit en loop hulle tussen ons rond,” sê Herman.

Die gebrek aan enige aksie en inligting is moeilik om te aanvaar, veral nadat lede van die kommando in November verlede jaar met ‘n blitsoptrede daarin geslaag het om die verdagtes aan die polisie uit te lewer. Die kommando het toestemming ontvang om vanaf 4 November tot 11 November 2003 die saak te hanteer. Op 11 November het hulle 24 uur uitstel gevra en op die 12de November het hulle die verdagtes aan die polisie oorhandig.

“Aanvanklik het supt. Hannes Snijders, areakoördineerder van Thohoyandou, die kommando gehelp deur inligting in verband met die verdagtes deur te gee. Daarna is hy van die ondersoek onttrek en het ‘n spesiale ondersoekspan vir ernstige geweldsmisdaad oorgeneem,” sê Herman.

“Dit het egter nie gelyk of hulle weet hoe om die saak op te volg nie. Die bronne wat hulle gehad het, het hulle nie reg hanteer nie en hulle het leidrade misgekyk.”

Intussen het bendelede die polisie geïntimideer en mense geteister. Toe die kommando hulle in die hande gekry het, was hulle na bewering op pad om ‘n boer op Soekmekaar te gaan skiet. Hulle planne was ook na bewering om mnr. Kallie Erasmus van Levubu te beroof asook Checkout in Louis Trichardt.

“Dit wat gedoen is, is deur lede van die kommando gedoen,” sê Herman. Binne agt dae het die kommando die verdagtes aan die polisie uitgelewer. Ses verdagtes is gearresteer. Sedertdien ontvang die De Jagers geen taal of tyding nie.

Mnr. Kobie Cronjé van Laatsgevonden nr. 6 en bure van die De Jagers was van plan om ‘n herdenkingsgeleentheid te reël, ‘n jaar na die moord ... Lenie gaan egter ‘n familiegeleentheid bywoon. Almal vertrou dat die wegkom haar sal goed doen, aangesien sy die laaste tyd swaar kry.

“Ons bly steeds onrustig. Niemand kan meer lekker op hulle plaas rondbeweeg nie. Tot die bediendes sluit steeds al die deure. Ek weet nie of ‘n mens ooit weer in Suid-Afrika vry sal voel om te kom en te gaan soos jy wil nie,” sê Lenie.

Die boerderygemeenskap het in die afgelope jaar hulle sekuriteitstelsels opgeknap. Kobie sê dat die moord op oom Piet en die voorafgaande plaasaanvalle steeds ‘n invloed op die lewenstyl van die gemeenskap het.

“Ons wil nie in die aande uitgaan nie. As jy moet weg wees vir ’n vergadering, hou jy gedurig kontak met die mense tuis,” sê Kobie.

Die bloed van oom Piet wat gevloei het, was egter nie verniet nie. Die hewige reaksie wat daarop gevolg het, het gemaak dat die boeregemeenskap op Levubu ernstiger opgeneem is deur die provinsiale departement van Veiligheid en Sekuriteit. Me. Dikeledi Makgadzi en ander hooggeplaastes het persoonlik die De Jager-gesin besoek om meegevoel te betuig. Daarna is die stasie kommissaris op Levubu vervang met Supt. Nardus Becker.

“Vandat daar ‘n nuwe bevelvoerder is, is polisie teenwoordigheid meer sigbaar en is dit rustiger in die omgewing. Daar word goeie werk gedoen en ons is dankbaar daarvoor,” sê Kobie.

Die Cronjé’s beweeg egter daagliks verby die plek waar die moorddadige aanval op oom Piet plaasgevind het.

“Ons bly steeds hartseer oor wat gebeur het. Ons voel gegrief oor dit wat toegelaat is om te gebeur en veral oor die regsaak wat nog al die tyd sloer …”

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines