

ADVERTISEMENT:

News Date: 08 December 2006
Inwoners van Makhado (Louis Trichardt) kan help om munisipale werkers uit te wys wat in werkstyd met munisipale vervoer skrootmetaal na skroothandelaars neem en verkoop vir eie gewin.
Dit is die boodskap van mnr. Phineas Ndwakhulu, opsigter van die munisipaliteit se vullisverwyderingsafdeling.
In een geval het ‘n plaaslike sakeman gevra of dit toelaatbaar is vir munisipale werkers om skrootmetaal op te ruim. Hy het verwys na ‘n voorval waar munisipale werkers eers die koper en aluminium uitgesoek het tussen die rommel wat hulle moes oplaai, waarna hulle dit by ‘n skrootwerf gaan verkwansel het.
Volgens Ndwakhulu is dit nie die munisipaliteit se werk om metaal na skrootwerwe te neem nie en dat dit saam met ander vullis by die munisipale stortingsterrein afgelaai moet word. Hy sê egter dat hy bewus is van gevalle waar munisipale werkers op só ‘n manier ekstra inkomste wil genereer en dat die skuldiges reeds skriftelike waarskuwings ontvang het. Ndwakhulu sê dit is egter duidelik dat die skuldiges hulle nie aan dié waarskuwings stuur nie.
Ndwakhulu het ook verwys na munisipale werkers wat munisipale voertuie vir privaat gebruik aanwend. Ook hier, sê hy, kan inwoners help om die probleem te beperk deur gevalle van privaat gebruik aan te meld. Daar was selfs ‘n geval waar munisipale werkers tuinvullis by erwe verwyder het vir ekstra inkomste met munisipale trekkers. Indien ‘n persoon vermoed ‘n voertuig word vir privaat doeleindes aangewend, sê Ndwakhulu, moet slegs die voertuig se registrasienommer, tyd en plek waar die voertuig opgemerk is, aan die munisipaliteit deurgegee word.
Inwoners wat kennis dra van enige munisipale werkers wat tydens hul werksure ekstra geld probeer verdien word gevra om dit so gou as moontlik te rapporteer deur die munisipaliteit te skakel by tel. (015) 519 3000. Ndwakhulu het inwoners verder aangemoedig om alle metaal self na skrootwerwe te neem, sodat munisipale werkers nie in die versoeking geplaas word om dit te doen nie.

ADVERTISEMENT:
