

ADVERTISEMENT:

News Date: 08 December 2006
Die onlangse goeie reën wat oor die dorp uitgesak het, het baie vrae laat ontstaan oor die doeltreffendheid van Makhado (Louis Trichardt) se stormwaterdreineringstelsel.
Vanoor die hele dorp is klagte ontvang van ‘n verstopte of gebreekte stormwaterstelsel wat nie instaat was om reënwater te dreineer nie. Op plekke was daar selfs effense verspoelings.
Volgens mnr. George Ntsudeni, verbonde aan die Makhado Munisipaliteit se departement verantwoordelik vir die dorp se riool- en stormwaterstelsel, is die munisipaliteit bewus daarvan dat die stormwaterstelsel nie meer doeltreffend is nie. Hy sê dat munisipale werkers amper op ‘n daaglikse basis besig is om die verstopte en beskadigde stormwaterstelsel skoon te maak of te herstel. Dit is egter volgens Ntsudeni ‘n groot taak en hy erken dat die munisipaliteit nie bewus is van al die probleme nie.
Buiten vir verstoppings is talle dreineringspunte so erg beskadig dat dit ‘n gevaar inhou vir lede van die publiek. In een so ‘n geval is die stormwaterdreineringspunt op die hoek van Erasmus- en Munnikstraat so beskadig dat die sementbedekking bo amper heeltemal weg is en daar net ‘n gat is. Daar is geen waarskuwingstekens om die gat aan te dui nie en iemand wat in die aand daar loop staan die kans om erg beseer te word. Ntsundi het egter onderneem om dadelik die probleem aan te spreek.
Volgens Ntsudeni blyk swaarvoertuie die grootste sondebokke te wees as dit kom by die beskadiging van dreineringspunte. Hierdie voertuie sukkel telkens om in die dorpsgebied gedraai te kry en ry dan bo-oor sypaadjies en dreineringspunte.
Ntsudeni het inwoners versoek om die munisipaliteit te skakel met inligting oor probleemareas ten opsigte van die stormwaterstelsel. Inligting kan ook deurgegee word oor persone wat die stelsel beskadig. Die munisipaliteit kan geskakel word by tel. (015) 519 3000.

ADVERTISEMENT:
