

ADVERTISEMENT:

News Date: 08 December 2006
Opgraderingswerk van meer as R113 miljoen aan die N1 tolpad noord van Makhado (Louis Trichardt) sal vir padgebruikers se gerief op 14 Desember tydelik vir die Kersseisoen onderbreek word.
Padwerke aan die bergpasgedeelte van die pad het sodanig gevorder dat algehele padsluitings nog net beperk behoort te wees tot 5, 6 en 7 Desember, waartydens padgebruikers tussen 08:30 en 16:00 van die beskikbare alternatiewe roete via die Witvlagpad gebruik moet maak.
Luidens ‘n vorderingsverslag wat vandeesweek deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap Beperk (SANRAL) uitgereik is, behoort volle tweerigtingverkeer vanaf 14 Desember langs die hele roete tussen Makhado (Louis Trichardt) en Musina vir die duur van die Desembervakansie, ingestel te word. Konstruksiewerk sal dan eers weer die tweede week in Januarie 2007 hervat word.
Die normale stop/ry-eenrigtingverkeermaatreëls sal tot 13 Desember op die bergpasgedeelte van die pad van toepassing wees, weens padwerke wat nog op verskeie plekke voltooi moet word. Dit sluit die stuitbed-terrein, net noord van Makhado (Louis Trichardt) aan die heel suidekant van die pas in, tesame met die werk aan die Witvlag-distrikpadaansluiting, die struktuurwerke by die tonnelingange asook padbouwerk by die Mutamba Rivierbrug en die 600m-lange pad onmiddellik suid van die brug.
Die oorblywende konstruksiewerk aan die N1 tussen die dorp en Musina sal gedurende die tweede week van Januarie 2007 met die oog op finale afronding hervat word. Hierdie fase sal nie ‘n algehele sluiting van die pas tot gevolg hê nie. Die mikpunt is om hierdie gedeelte van die opgraderingsprojek, wat sowat R46,3miljoen kos, teen die middel van Februarie 2007 te voltooi.
Die konstruksiewerk op die 15km gedeelte van die N1 tussen Musina en Beitbrug is reeds sedert Meimaand vanjaar aan die gang. Dié gedeelte van die opgraderingsprojek kos sowat R67miljoen. Verkeer word op hierdie gedeelte langs ‘n ompad herlei terwyl die pad herbou word. Alle konstruksiewerk word op 14 Desember vanjaar vir die Kersvakansie tydelik afgesluit en behoort weer teen 9 Januarie, 2007, te begin.
Verkeer sal gedurende die Kersvakansie van die geteerde ompad gebruik moet maak. Spesiale reëlings is in samewerking met die grensowerhede getref om moontlike swaarvoertuig-opeenhopings voor die grenspos gedurende die Kerstyd te hanteer.
Die opgraderingsprojek tussen Musina en Beitbrug behoort teen Julie 2007 voltooi te wees.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
