

ADVERTISEMENT:

News Date: 24 September 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Misdaad aan die buitewyke van die dorp neem toe en inwoners vra nou vir meer effektiewe polisiëring.
‘n Klip deur jou sitkamerruit en so vinnig soos weerlig verdwyn jou hoëtroustel. Weg deur die venster, die bosse in. Nie eers die polisie met voertuie kan ta vastrek nie.
Mnr. Hugo Stam en sy seun, Jan-Hugo, het op 15 September dié nare ondervinding gehad. Om 04:00 hoor mnr. Stam die honde blaf.
“Ek staan op en kyk na buite, maar sit nie die ligte aan nie. Ek was nog nie terug in die bed nie, toe hoor ek ‘n slag. Ek het dadelik na die sitkamer gegaan. Daar roer nog net die gordyne in die wind. Die skelm het klaar uitgeklim met my hoëtroustel,” sê mnr. Stam.
Mnr. Stam sê dat die polisie flink gereageer het en gou in Rivierstraat opgedaag het waar die misdaad plaasgevind het.
“Ek wil graag vir inspekteurs Madia en Ramovha bedank vir hul simpatieke optrede,” sê mnr. Stam.
Inwoners van Rivierstraat het die hele week deurgeloop. Maandag (13de) is ‘n plaaslike verwer gedreig met ‘n pistool deur ‘n jongman wat sommer uit die bosse verskyn het. Hy het die verwer gedreig om nie weer daar oor die bruggie te loop nie. Die volgende dag gewaar die verwer ‘n rokie in die bosse. Albei gevalle is aan die SAPD gerapporteer. Donderdag (16de) was daar ‘n poging tot roof van ‘n huisbediende se handsak. Sy het egter terugbaklei, haar handsak teruggegryp en oor die heining van die naaste woning gegooi waar sy dit teruggevind het.
Mnr. Stam het weer die luidsprekers van sy hoëtroustel in die bos oorkant Rivierstraat gevind. Die polisie se reaksietyd was baie goed, maar net daar eindig die storie. Die vingerafdrukafdeling het nie vingerafdrukke op die twee gesteelde luidsprekers geneem nie, maar wel op die luidsprekers wat in die huis agtergebly het. Verder het die toegesweiste versperrings wat by die doodloop van Messina-weg opgerig is, ook die polisievoertuie effektief uit die bos gehou. Die skelm is nie opgespoor nie.
Die toegesweiste versperrings maak polisiëring oneffektief, voel inwoners wat daar naby woon.
“Daar moet ‘n hek wees waarvan die polisie en die munisipaliteit ‘n sleutel het. Die skelms het nou ‘n vrypas daar agter die versperrings,” sê een besorgde inwoner.
Paar maande gelede, net voor die winter, het inwoners bedrywighede by die munisipale pomphuisie oorkant Rivierstraat gewaar. Polisie-amptenare het uitgekom, maar gesê dat die gebou toegesluit is. Een van die lede van die publiek het vinnig vir hulle die slot oopgesny. Daarop is gesteelde goedere, soos fietse, gasstowe, klere en komberse daarbinne gevind.
Inwoners van al die buitewyke van die dorp sit met dieselfde probleem van toenemende misdaad. Geteisterde inwoners voel dat daar nie goedbeplande, intelligente polisiëringswerk is nie.
‘n Ander probleem wat al jare voorkom is die pleeg van onsedelike dade in en buite voertuie in die parke en bosse.
“‘n Polisieman wat onopmerklik in gewone drag is, sal maklik hierdie oortreders kan dophou en laat aankeer. Hulle sal baie mense vang. Dit lyk of die polisie ordentlike leiding kort oor hoe om hulle werk te doen,” sê een inwoner.
Verder is daar inwoners wat voel dat hulle graag ‘n forum wil hê om elke week se midsdaadstatistieke aan te meld. Inwoners het ‘n behoefte om weeklikse statistieke by te hou.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
