

ADVERTISEMENT:

News Date: 15 December 2006
Waar moet mens loop om nie die straatsmouse se goed op die sypaadjie raak te trap nie?
Dit is ‘n vraag wat al deur baie inwoners, soos mev. Marietjie Barkhuizen, sekerlik al baie gevra is.
Mev. Barkhuizen het met groot ontsteltenis vertel hoe sy Maandag, 4 Desember, moes sukkel om by haar familie-apteek uit te kom omdat die hele sypaadjie toegepak was met straatsmouse se goedere.
Mev. Barkhuizen het vir ‘n Vendasprekende vrou gevra om vir die straatsmous te vra om haar goedere uit die pad te skuif sodat mens op die sypaadjie kan loop. Nodeloos om te sê is mev. Barkhuizen doodeenvoudig meegedeel dat die straatsmous ‘n maandelikse fooi aan die munisipaliteit betaal om haar goed daar te verkoop en basta met die res.
Volgens Marietjie het die apteek en hul kliënte dit swaar met die straatsmouse. Die gevoel is die probleem moet gou opgelos word.
Tydens ‘n onderhoud met mnr. Jan Zitha, munisipale verkeershoof wat verantwoordelik is vir die beheer van straatsmouse, het mnr. Zitha gesê die probleem van straatsmouse is ‘n kopseer en dat mense rede het om te kla.
Volgens mnr. Zitha sal daar weer gekyk word na die afbakening van gebiede waar straatsmouse mag handel dryf, terwyl smouse wat onwettig hul goedere op straat smous, boetes opgelê sal word.
Volgens mnr. Zitha kyk hulle reeds na moontlike maniere om die probleem van straatsmouse te beperk. Die gedagte is om ander areas beskikbaar te stel vir straatsmouse.

ADVERTISEMENT:
