

ADVERTISEMENT:

News Date: 22 December 2006
Die uitslag van die omstrede eis teen die grondgebied van die Buyse is van internasionale belang. Dit sal aan die internasionale gemeenskap toon presies hoe ernstig die ANC-regering is oor nasiebou en ‘n reënboognasie wat ook die land se kleurlingbevolking insluit.
Die internasionaal-erkende akademikus Enver Buys sê die uitslag van die grondeis en die huidige situasie van die Buyse is van nasionale belang vir alle kleurlinggemeenskappe wat tans grond bewoon wat hulle van hul voorvaders geërf het. Hy sê dié bevolkingsgroepe word gemarginaliseer en die owerheid kyk nie na hul belange nie.
Mnr. Buys sê die geskiedenis van Afrika toon duidelik dat die Khoi- en die Sanmense die oorspronklike inwoners van die hele grondgebied van Suid-Afrika was. Tog moet hul nasate, wat alle kleurlingbevolkingsgroepe soos die Buyse insluit, nou deur ‘n beledigende, ondermynende, vernederende en viktimiserende proses beweeg om te bewys dat hulle die reg het om op hulle eie grondgebied te mag woon.
"Die Staat het die afgelope 12 jaar nagelaat om die Buyse, wat deel uitmaak van die verklaarde beleid van breë ekonomiese bemagtiging, op enige wyse te bemagtig.
"Die Staat moet sy erns met die opheffing van die kleurlingbevolking van Suid-Afrika toon en in die openbaar bekendmaak. Dit kan gedoen word deur landswyd kleurlinggemeenskappe te ondersteun, op te hef en aan te moedig om deel te wees van die reënboognasie," sê mnr. Buys.
Enver Buys is ten nouste gemoeid by die regering se swart ekonomiese bemagtigingsproses. Hy is die hoof uitvoerende beampte van ‘n diensverskaffingsonderneming wat spesialiseer in strategiese bestuur en landwyd raadgewend optree in die fasilitering van verskeie aspekte van die regeringsbeleid.
Hy en sy gesin het die afgelope naweek besoek gebring aan sy ouers op Buysdorp, waar die gemeenskap saamgetrek het om hul onderlinge lojaliteit en toewyding aan hul erfenis te betoon.
Enver is uitgenooi om vroeg aanstaande jaar in Londen deel te neem aan ‘n internasionale simposium oor entrepreneurskap. Hy sal ‘n referaat lewer oor entrepreneurskap in Suid-Afrika en die gebrek aan groei in die Tweede Ekonomie.
Enver sê dit is uiters belangrik dat Suid-Arikaners op alle vlakke volwasse moet raak in hul beredenering, debatte en ondersoeke na verskillende beleidsrigtings. Hy is ‘n sterk voorstander daarvan dat mense op sterkte van hul kwalifikasies en bewese vermoëns en bekwaamheid in diens geneem moet word en nie op die rug van hul lidmaatskap van een of ander binnekring nie. Hy sê sy eerste lojaliteit lê by Suid-Afrika.
"Bo alles is ek lojaal aan my land en ook aan my bevolkingsgroep (tribe). Ek is nie bang vir viktimisasie nie."
Hy beskik oor ‘n indrukwekkende reeks uiteenlopende akademiese kwalifikasies in die opvoedkunde en ekonomie. Dit sluit ook nagraadse kwalifikasies in van plaaslike en oorsese universiteite. Hy word gereeld in radioprogramme nader getrek as deskundige spreker.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
