

ADVERTISEMENT:

News Date: 22 December 2006
‘n Oud-leerling van Hoërskool Trichardt en die oudste seun van die bekende Krügell-gesin is op die jong ouderdom van 32 jaar as professor in Ekonomie aangestel.
Die Universiteit van Noordwes, die voormalige Potchefstroomse Universiteit, het vir dr. Waldo Krügell in Oktober vanjaar bevorder tot professor aan die Skool vir Ekonomie, Risikobestuur en Internasionale Handel.
‘n Liefde vir Ekonomie loop natuurlik sterk in die Krügell are en daar aard Waldo seker na pa Jan, wat Departementshoof vir Ekonomiese Wetenskappe by die hoërskool is. Jan en Elsa Krügell is beide bekende onderwysers in wie se klasse baie kinders in Ekonomie en Afrikaans en in die lewe geskool is. Die Krügells het hulle in 1981 in Louis Trichardt kom vestig. Dit was dan ook die jaar dat klein Waldo met sy skoolloopbaan aan die Laerskool Soutpansberg begin het. In 1992 het Waldo by die plaaslike hoërskool gematrikuleer met vyf onderskeidings.
‘n Merkwaardige akademiese loopbaan het gevolg. In 1996 behaal Waldo sy BCom Honneurs in Ekonomie met lof en word hy aangewys as PU vir CHO se beste BCom Honneurs student. Dit volg nadat hy ook sy eerste graad, BCom (Ekonomie), met lof behaal het en ook in 1995 as die beste BCom student aangewys is. Daarna is Waldo vir twee jaar lektor by UNISA. In 1999 verwerf hy sy meestersgraad in Ekonomie by die Potchefstroomse Universiteit, weereens met lof. In dieselfde jaar begin hy ook as lektor by sy alma mater in Potchefstroom.
Hierna volg ‘n verdere kwalifikasie vir hierdie briljante jong akademikus. Hierdie keer is dit ‘n MSc-graad in Ekonometrie aan die Universiteit van Warwick in Engeland, waar hy in 2001 vir ‘n jaar studeer het. In 2005 word Waldo bevorder tot Senior Lektor in die Departement Ekonomie aan die Universiteit van Noordwes.
In verlede jaar se Kampusnuus word berig dat dr. Krügell verkies is op die nasionale Raad van die Ekonomiese Vereniging van Suid-Afrika. Hy lewer ook gereeld referate.
Wat doen prof. Krügell as hy nie met waardevolle navorsing en lesings besig is nie? In sy vrye tyd is hy gholfspeler, kok, wyn fundi en filmkenner. Daar is ook ‘n voëltjie hoor fluit dat hy eindelik die regte dame ontmoet het …
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
