ADVERTISEMENT:

 

Lede van die polisie op die toneel waar mev. Pretorius koelbloedig doodgeskiet is. Regs staan die bakkie waarin sy op reis was. Sy is herhaaldelik geskiet, klaarblyklik op kort afstand.

Sakevrou koelbloedig doodgeskiet

 

News  Date: 12 January 2007

 

Talle inwoners van die Soutpansberg se nuwejaarsfeesvieringe was van korte duur met die skoknuus van die koelbloedige moord op ‘n besigheidsvrou van Levubu, mev. Ria Pretorius.

Die 44-jarige mev. Pretorius van Levubu Bottelstoor was op Dinsdag, 2 Januarie vanaf die sakeonderneming na Makhado (Louis Trichardt) onderweg om voorraad aan te koop. Sy is egter rondom 13:00 sowat 2km buite die dorp dood in haar voertuig aangetref. Sy is verskeie kere geskiet, ook in die kop.

Roof het van meet af geblyk die motief vir die moord te wees. ‘n Groot hoeveelheid kontant is egter in die voertuig gevind, asook verskeie van mev. Pretorius se waardevolle besittings. Dit het die polisie aanvanklik laat kopkrap, maar later het dit aan die lig gekom dat daar wel ‘n groot hoeveelheid kontant vermis word.

Vir menige was dit voorwaar ‘n raaiseldood. Daar kon geen ooggetuies gevind word nie, ten spyte van die besige aard van die Thohoyandoupad en die polisie kon geen leidrade, behalwe ‘n paar pistooldoppies, op die toneel vind wat ‘n aanduiding kon gee oor wie vir die moord verantwoordelik was nie. Haar voertuig, wat langs die pad geparkeer gestaan het, was nog aangeskakel en uit rat uit. Baie het haar dood eerder as ‘n teregstelling beskryf, terwyl andere glo dat sy vir iemand gestop het wat sy geken het. Al hierdie dinge bly egter net bespiegelinge.

Polisiewoordvoerder in die Vhembe-streek, supt. Ailwei Mushavhanamani, het by navraag hierdie week gesê die vermoede bestaan dat mev. Pretorius deur haar moordenaars vanaf Levubu agtervolg is.

"Ons kan egter nie in hierdie stadium meer inligting oor die skietery bekendmaak nie. Die ondersoek is in ‘n sensitiewe stadium met die polisie wat tans ‘n paar goeie leidrade opvolg," het Mushavhanamadi gesê.

‘n Familielid, mnr. Dave du Preez, het Dinsdag gesê die familie aanvaar mev. Pretorius se dood maar moeilik. Hy sê dit blyk dat mev. Pretorius vier keer geskiet is. Intussen, sê Du Preez, het die Eenheid vir Ernstige Geweldsmisdaad van Polokwane die ondersoek oorgeneem.

"Hulle sê hulle sal die mense vang. Dit blyk ook dat daar vier of vyf persone by die moord kon betrokke wees," het Du Preez gesê.

Wyle mev. Pretorius is Maandag, 8 Januarie, vanuit die N.G. Kerk Levubu-gemeente begrawe. Sy word oorleef deur haar man, Harry, dogter Chantelle (21) en seun Herman (16).

Alhoewel daar te veel mense is om te noem, het die familie tog die Lordan-familie van Vhavenda Bricks en ds. Petrus Kriel uitgesonder vir hul hulp en ondersteuning in dié tyd van droefheid.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines