ADVERTISEMENT:

 

Met agt onderskeidings is Eduan van der Westhuizen van Hoërskool Louis Trichardt aangewys as Limpopo se toppresteerder in die afgelope matriekeksamen.

Eduan is Limpopo se top-presteerder

 

News  Date: 12 January 2007

 

Vir die derde keer in 10 jaar lewer Hoërskool Louis Trichardt die top matriekpresteerder in die Limpopo Provinsie op.

Eduan van der Westhuizen, verlede jaar se hoofseun, is met agt onderskeidings en ‘n puntetotaal van 2254 uit 2300 aangewys as die toppresteerder in provinsie. Hy behaal onderskeidings in wiskunde (100%), natuur- en skeikunde (100%), rekeningkunde (99%), Engels addisionele taal (99%), ekonomie (98%), rekenaarstudie (97%) en Afrikaans eerste taal (91%) almal op hoërgraad en ook ‘n onderskeiding vir rekenaartik op standaardgraad.

Eduan ontvang verder die trofeë as die Beste Presteerder in die provinsie in die vakke wiskunde, natuur- en skeikunde, rekeningkunde en Afrikaans, asook die trofee vir die Vhembe-distrik se toppresteerder. Die trofeë is oorhandig tydens ‘n glansgeleentheid van die onderwysdepatrement wat by Bolivia Lodge in Polokwane op 28 Desember aangebied is.

"Ek was in ekstase! Ek het my doel bereik met die genade van die Here Jesus Christus," het Eduan gesê. Sy raad aan matrieks is om leer- en eksamenfiks te word, maar ook fisiese oefening te doen en baie te bid.

Eduan beplan om BComm Rekeningkundige Wetenskappe by Tukkies te studeer om ‘n geoktrooieerde rekenmeester te word.

"Die skool is baie trots op Eduan. Die uitstaande uitslae van die matriekgroep van 2006 vestig Hoërskool Louis Trichardt finaal as een van die top skole in Limpopo. Die toppresteerder in die provinsie het vir die derde keer die afgelope 10 jaar uit die skool gekom, ‘n prestasie wat deur geen ander skool nog nagedoen is nie," sê die skoolhoof, mnr. Henry Denner. Die ander provinsiale toppresteerders was Marlize Barkhuizen in 1997 en Fritz-Jan van der Westhuizen, Eduan se ouer broer, in 2003.

Hoërskool Louis Trichardt tel weereens op grond van die aantal leerders wat met universiteitsvrystelling slaag, onder die top 40 skole in Limpopo. Die slaagsyfer vir 2006 is 99,1% nadat slegs een van die 111 matrikulante nie die paal gehaal het nie. ‘n Totaal van 108 onderskeidings, 127 B-simbole en 157 C-simbole word deur die groep verwerf.

Die hoofdogter van 2006, Anneri Muller, doen die hoofseun van die jaar goed na deur vyf onderskeidings op hoërgraad te behaal. Sy verwerf onderskeidings in Afrikaans eerste taal, Engels addisionele taal, wiskunde, natuur- en skeikunde en tegniese tekeninge.

"Sy is baie ongelukkig om onderskeidings in haar oorblywende vakke net te mis toe sy 78% vir beide biologie en rekenaarstudie behaal het," sê mnr. Denner. Anneri, ‘n kranige tweekamp atleet, gaan ‘n BSc in Omgewings- en Ingenieursgeologie en Hidrologie aan die Universiteit van Pretoria studeer.

Willem Ehlers (Afrikaans, Engels, tegnika siviel en aardrykskunde) se vier onderskeidings is almal op hoërgraad. Willem wil ‘n elektriese ingenieur word en gaan in Pothchefstroom aan die Universiteit van Noordwes studeer. Annemi Dell het ook vier onderskeidings verwerf, in Afrikaans en Engels op hoërgraad en rekenaarstudie en hotelhouding op standaardgraad. Annemi het reeds begin werk by ‘n regshulpfirma en besluit nog oor haar toekomstige rigting. Die kandidate wat drie onderskeidings elk ingeoes het, is Jannie Brink (Afrikaans HG, Engels HG en rekeningkunde HG), André Naudé (Engels HG, wiskunde HG en aardrykskunde HG), Carmea Petzer (Afrikaans HG, Engels HG en hotelhouding SG), Eugenie Rudolph (Afrikaans HG, Engels HG en Aardrykskunde HG) en Stefna van Jaarsveld (Afrikaans HG, Engels HG en rekenaarstudie SG). Jannie werk by ‘n oudituersfirma en studeer deeltyds in dieselfde rigting, terwyl André metallurgiese ingenieurswese aan UP gaan studeer. Tukkies kry ook vir Carmea en Eugenie as studente, in BComm Regte en onderwys onderskeidelik. Stefna het by ‘n regsfirma begin werk en besluit nog oor haar studierigting.

"Die matrieks van 2006 moet weet dat die skool baie trots is op die harde werk wat elkeen in die eksamen ingesit het om ‘n sukses van die jaar 2006 te maak. Die personeel van die skool het weereens bewys dat toewyding en ervaring die wenresep is om sukses te behaal, ongeag hoe die onderwysstelsel ook mag verander," sê mnr. Denner.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines