

ADVERTISEMENT:

News Date: 12 January 2007
‘n Plaaslike jong Amerikaanse sendeling, die 26-jarige Daniel Minton van Mashamba, het op Oujaarsdag op ‘n merkwaardige wyse letterlik uit die kake van ‘n krokodil ontkom.
Die ondier het hom in diep water aan die bobeen beetgekry, onder die water ingeruk en reeds ‘n dubbele "doodsrol" uitgevoer, toe Daniël daarin geslaag het om uit sy doodsgreep los te kom. Hy het bloot met die gebruik van sy arms daarin geslaag om die rivieroewer weer veilig te bereik.
Die jong sendingwerker se linkerbeen is in die aanval ernstig beseer en hy is ná ‘n moordende noodrit van 15 ure uit Mosambiek na die Zoutpansberg Private Hospitaal oorgeplaas. Hy sterk nou tuis aan op ‘n kleinhoewe buite Makhado (Louis Trichardt), waar hy deur sy eggenote Joy (‘n gekwalifiseerde verpleegster) versorg word.
Daniël is as Bybelonderwyser verbonde aan die Baptiste-gemeente op Mashamba. Hy het verlede jaar vanaf sy tuisdorp, Lainsburg in Michigan, Amerika, na Afrika gekom om sendingwerk te doen. Dit is ‘n roeping waarvan hy reeds bewus was sedert hy agt jaar oud was.
Sy merkwaardige ontkoming op Oujaarsdag het plaasgevind tydens ‘n sending verkenningstog digby Masengena in Mosambiek.
"Ons het op 27 Desember na Mosambiek vertrek op soek na gemeenskappe wat nog glad nie die Evangelie gehoor het nie. Ons het naby Masengena kamp opgeslaan by ‘n plek langs die rivier waar mense dikwels die rivier oorsteek. Op ‘n snikhete warm dag het ons in die rivier afgekoel en was sowat 30 meter vanaf die kant, toe iemand skielik van die wal af geskree het: ‘Krokodil!’"
Daniël, wat tydens sy studentedae dikwels as lewensredder opgetree het, sê hy is ‘n sterk swemmer en het onmiddellik so vinnig as moontlik na die rivierwal teruggeswem.
"Sowat 10 meter vanaf die wal het die krokodil my skielik baie hard aan die linkerkant getref. Hy het my tussen die bo-been en die knie in sy bek vasgegryp en my onder die water ingetrek. Ek het besef wat besig is om te gebeur en ‘n diep teug asem getrek voordat ek onder die water in is. Die krokodil het twee ‘doodsrolle’ met my uitgevoer, maar ek was nie bang dat ek sou sterf nie, want ek het nog ‘n onvoltooide opdrag van die Here.
"Ek het onthou die bekende krokodiljagter Steve Irwin het eenkeer in ‘n TV-onderhoud gesê as hy deur ‘n krokodil aangeval sou word, sal hy probeer om die lugklep agter in die dier se keel toe te druk. Ek het my arm diep in die krokodil se bek ingeforseer en daar ‘n slymerige massa styf vasgegryp en hard gedruk en gepluk. Dis toe dat hy my laat los," vertel Daniël.
"Ek kon my bene gladnie gebruik nie en het bloot met my arms kant toe geswem en myself daar teen die wal opgetrek. Takalani, ‘n lid van ons geselskap, het my gehelp." Dit was nagenoeg 14:30.
Daniël sê hulle het van twee hemde ‘n drukverband gemaak om die ergste bloeding te stop en hom in ‘n bakkie na die hospitaal op Masengena gebring. Hy gril merkbaar as hy vertel hoe hulle in die hospitaal die krokodil bytwonde met sowat 50 steke toegewerk het – sonder enige verdowing. Die hospitaal het ‘n tekort aan voorrade. Daar was ook geen telefoon beskikbaar om ‘n noodvlug vir hom te organiseer nie. Hulle het omstreeks 09:00 die volgende oggend met die bakkie in die pad geval vir die moeisame terugtog deur Zimbabwe na Beitbrug en daarvandaan na Louis Trichardt se nuwe private hospitaal.
Die insident het veroorsaak dat Daniël en sy vriende nie ‘n Bybelstudie-afspraak vir 15:00 op Oujaarsdag kon nakom nie met twee mense wat hulle die vorige aand ontmoet het, nadat die mense se woning in ‘n kwaai storm vernietig is.
"Hulle het egter ook na die hospitaal toe gekom waar talle mense saamgedrom het om na die ‘krokodilslagoffer’ te kom kyk," glimlag Daniël.
Hy sê dit is merkwaardig hoeveel dinge perfek saamgewerk het om sy lewe te help red en ook om geestelike redding vir ander te bring. Die hospitaalbesoek was op die ou-end vir dié twee besoekers en vir ‘n verpleegster by die hospitaal, teenoor wie Takalani getuig het, ‘n belangrike keerpunt in hul lewens.
Benewens Bybelonderrig by kerke, is Daniël ook gemoeid met ‘n projek om ‘n kollege of opleidingfasiliteit vir jongmense op te rig. ‘n Standplaas naby Lemana is reeds vir dié doel geoormerk.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
