

ADVERTISEMENT:

News Date: 12 January 2007
Dramaturg Bets Prinsloo van Makhado (Louis Trichardt), het die ATKV se CR Swartprys gewen vir haar eenbedryf Gee jou hart vir Sneeuwit - ‘n mini pantomime.
Die prys gaan aan die beste nuutgeskrewe eenbedryf in die land in die tienertoneel. Bets het Gee jou hart vir Sneeuwit in 2005 geskryf en die stuk is deur die toneelgroep van die Hoërskool Louis Trichardt met groot welslae opgevoer.
"Die dialoog is kort, kragtig en pittig en die stuk speel heerlik. Dit was regtig ‘n plesier," sê Nellie Wolmarans, die regisseur van die toneelgroep. Die tema van die pantomime is "Hebsug en jaloesie is duur, maar vriendskap en liefde is verniet".
Bets sê dat hierdie stuk van dag een af net gewerk het.
"Die kinders het my in die straat voorgekeer en gesê dat dit ‘n lekker stuk is wat hulle laat lê soos hulle lag."
Bets skryf al 12 jaar lank tienertoneelstukke vir die skool se toneelgroep. Verlede jaar se toneel was Kleine-kleine en was ‘n maatskaplike stuk met ‘n sterk komiese element. Dit het oor verhoudings binne die gesin gehandel. Sy het ook al ‘n ernstiger stuk oor plaasmoorde geskryf.
"Ek dink tog ek verkies om die kinders liewer te laat giggel as gil," sê Bets terwyl die alliterasie sommer so gemaklik van haar tong afrol.
Hierdie ervare dramaturg sê dat sy net vir die lekker skryf en dat die prys uit die bloute gekom het.
"Ek hou daarvan om kritiek te kry van die regisseur, die spelers, die onderwysers en uiteindelik die beoordelaars. Dis nou positiewe en negatiewe kritiek. Daar is soveel mense by betrokke en dit is baie blootstelling. Mense se reaksie is vir my heerlik. Nog beter as applous is daardie doodse stilte na die stuk".
Baie van haar stukke is al landswyd opgevoer.
Nog iets wat haar motiveer is die waarde wat toneelspel vir kinders het.
"Ek sien wat tienertoneel vir kinders doen. Dit gee hulle net soveel selfvertroue".
In die loop van die 12 jaar het Bets in ‘n stadium gewonder of sy nog tienertoneel kan skryf.
"Ons wêrelde is so ver apart - ek is al amper 60 en hulle is 16".
Die teendeel is egter bewys. Die reaksie van die toneelgroep het telkens getoon dat sy in die kol met haar karakters, temas en taalgebruik is.
Verlede jaar het Bets meegewerk aan die regie, maar sy sê dat sy eintlik verkies om net te sit en kyk hoe die stuk vorm aanneem. "Nellie is ‘n uitstekende regisseur," sê sy.
Bets se belangstelling in toneel kom al van die tyd toe haar kinders in toneelstukke gespeel het. Haar dogter, Marlize, het op universiteit ‘n toneelstuk benodig en Bets het haar gehelp skryf.
"Dit was baie bevredigend".
Beide Marlize en haar boetie Rich het in die plaaslike hoërskool aan die toneelgroep deelgeneem. Eintlik wou Bets self drama op universiteit gestudeer het, maar haar ouers het haar afgeraai en sy het ‘n maatskaplike werker geword. Bets en haar ouditeurman, André, woon al 30 jaar in Louis Trichardt. Sy het vir kleuters skoolgehou, 14 jaar as welsynskonsultant by die SAVF gewerk en die afgelope 15 jaar by P&L Hardeware (vroeër Lempro) gewerk. Sy tree nou af en sien uit daarna om baie meer te skryf. Sy gaan haar hand waag aan verskeie ander genres.
Die ATKV sal Bets beloon met ‘n kontantbedrag en ‘n penning vir haar aandeel in die uitbou van die teaterbedryf. Die toekenning is aan die einde van verlede jaar gemaak vir die stukke wat die vorige jaar geskryf is.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
