ADVERTISEMENT:

 

Verdagte loop rieme styf buite hof

 

News  Date: 12 January 2007

 

Die 22-jarige Rudi Barker, wat daarvan verdink word dat hy R130 000 by ‘n sakeonderneming in die dorp gesteel het, is per geluk aangekeer nadat hy lank gesoek is.

Barker is destyds aangekla vir die beweerde diefstal van die geld. Die geld het vermis geraak terwyl Barker as ‘n elektriese kontrakteur by die onderneming gewerk het. Barker is aangekla, maar het uit die dorp verdwyn. Daarna was daar verskeie gerugte dat hy teruggekeer het, maar hy kon nie opgespoor word nie.

Die flink optrede van ‘n aanklaer by die landdroshof op Makhado (Louis Trichardt) het Dinsdag, 9 Januarie, egter ‘n einde gebring aan die soektog na Barker.

Die aanklaer het Barker by die hof raakgeloop en hom dadelik herken. Hy het vir Barker gevra of hy in die hof moet verskyn op die diefstalklag, maar Barker het geen kennis van die klag gehad nie en gesê hy moet verskyn op ‘n aanrandingsklag.

Die aanklaer het dadelik lede van die plaaslike polisiestasie ontbied en Barker is in hegtenis geneem en aangekla van diefstal. Hy het dieselfde dag nog in die hof verskyn en is op borgtog van R5000 vrygelaat. Die diefstalsaak sal op Woensdag, 31 Januarie, weer voor die hof dien.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines