ADVERTISEMENT:

 

Verdagtes in ABSA-roof vas na flink polisie optrede

 

News  Date: 12 January 2007

 

Vier rowers wat na bewering betrokke was by die gewaagde rooftog voor ABSA Bank in Makhado (Louis Trichardt) op Maandag, 18 Desember, is tans in aanhouding na flink polisie optrede.

Volgens supt. Ailwei Mushavhanamadi, polisiewoordvoerder in die Vhembe-streek, het die polisie inligting ontvang dat die beweerde rowers, wat ‘n groep sekuriteitsbeamptes van Coin Sekuriteit oorrompel het, by ‘n plaaslike vulstasie is op vlug uit die dorp.

Die polisie het vinnig op die inligting gereageer en vroeg Dinsdagoggend, 19 Desember, op die rowers toegeslaan.

Supt Mushavhanamadi het aan die Zoutpansberger gesê drie mans in ‘n blou Almera is in hegtenis geneem en sowat R196 000 is binne die voertuig gevind. ‘n Vierde verdagte is ‘n week later gearresteer. ‘n Onwettige vuurwapen in sy besit gevind. Dit is nie duidelik of die vuurwapen in die rooftog gebruik is nie.

Die vier verdagtes is Bongani Josua Machinini (31) en Wellington Ncube (32), beide van die Pretoria-omgewing, Daniël Themba Matiwane (28) van Johannesburg en Mbengeni Abel Rambau (39) van Vleifontein.

Supt Mushavhanamadi het bygevoeg dat die voertuig wat in die rooftog gebruik is in die omgewing van Tilwavusiku opgespoor is, waar die rowers moontlik na die Almera oorgeskuif het. Hy het sy dank uitgespreek teenoor die lid van die gemeenskap wat die polisie met die inligting gehelp het.

Die vier beskuldigdes het Dinsdag, 9 Januarie, vir die tweede keer in die plaaslike landdroshof verskyn en hul borg aansoek is na Dinsdag, 16 Januarie, uitgestel.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines