

ADVERTISEMENT:

News Date: 12 January 2007
Praguitslae ten spyt, is die kanse gering dat Hansie Uys se akademiese rekord by Hoërskool Louis Trichardt oortref sal word. Dié sonderlinge rekord staan nou al vir 60 jaar.
Die bekende Oom Hansie van Makhado (Louis Trichardt) het toentertyd Standerd 9 en 10 (Grade 11 en 12) binne ses maande voltooi, in die jaar wat dié skool sy eerste "matrieks" gehad het.
Oom Hansie vertel dat hy in 1944, toe die hoërskool nog nie hoërskool was nie, ná Standerd 8 die skool verlaat het en hom in 1945 ingeskryf het by die Engineering College of South Africa, wat met die Chambers College in Engeland geaffilieer was. Dit was vir die gekombineerde kursus vir diesel- en produksie ingenieurswese.
Nadat hy sy eerste twee jare in 1945 en 1946 geslaag het, kom die owerhede agter hulle het nooit gevra vir sy matrieksertifikaat nie en dring aan dat hy eers matriek moet hê voordat hy met die derdejaar kon aangaan.
Ná ‘n afwesigheid van twee jaar moes hy eenvoudig terug skool toe. In oorleg met die destydse skoolhoof, mnr. S. M. Brönn, is hy toegelaat om die werk vir die twee standerds binne ses maande onder die knie te kry. Hy moes boonop nog twee vakke bywerk waarmee reeds in Standerd 7 begin moes word. Hy het hoë lof vir die gehalte bystand van onderwysers van daardie tyd.
So tussendeur die buitengewone skoolgaan, het hy ook nog tyd gekry om vir homself naam te maak op die rugbyveld. Hy was uiteindelik een van die 17 uit 20 matrieks wat in 1947 met universiteitsvrystelling geslaag het.
"Van April tot einde Oktober 1947 het ek dus my Standerd 9 en 10 geslaag," vertel Oom Hansie.
Hy het op jeugdige ouderdom reeds verskeie patente (waaronder ‘n draaiskroef waterpomp) geregistreer en het hom later ook as joernalis bekwaam wat bydraes vir verskeie tydskrifte en koerante, insluitende die Zoutpansberger, gelewer het.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
