

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 January 2007
Hoërskool Eric Louw op Musina spog weer vanjaar met skitterende uitslae in die 2006-matriekeindeksamen. Vera Argyle, die hoofmeisie van verlede jaar en ook die Dux-leerling vir 2006, behaal in agt van haar nege vakke ‘n A-simbool.
Haar spoguitslae besorg aan haar ‘n sewentiende plek in die Limpopo Provinsie. In vier van hierdie vakke behaal sy ‘n persentasie van bo 90%, naamlik vir rekenaartik (98%), reis en toerisme (95%), rekeningkunde (94%) en rekenaarstudie (92%). Die ander vakke waarin sy A-simbole behaal is Afrikaans en Engels eerstetaal en wetenskap. In wiskunde behaal sy ‘n B-simbool, 4% kort van ‘n onderskeiding.
Vera is vanjaar by die Universiteit van Noordwes ingeskryf as ‘n B.Com. Rek.-student. Sy is opgewonde oor haar kursus, maar redelik skrikkerig vir die heel nuwe fase van universiteitslewe. Een aspek waarvoor sy egter nie bang is nie, is die koshuislewe, aangesien sy sedert laerskooldae in die koshuis was. Vera gaan in Vergeet-my-Nie Koshuis woonagtig wees.
Ander spogprestasies was die van Peter Kotze, hoofseun vir 2006, wat sy matriek met vyf onderskeidings en twee B’s slaag. Peter behaal onderskeidings in Engels tweedetaal, aardrykskunde, wetenskap, rekenaarstudie en rekeningkunde. In Afrikaans eerstetaal en wiskunde behaal hy ‘n B-simbool. Esmarie du Plessis, onderhoofmeisie vir 2006, behaal drie onderskeidings, nl. in Engels tweedetaal, wiskunde (SG) en rekenaarstudie.
In totaal behaal die 2006 matrikulante van Eric Louw 38 A-simbole en 49 B-simbole. Besondere vakprestasies was me. Anette Kapp se Afrikaans tweedetaal leerlinge wat in totaal nege onderskeidings behaal het, sewe onderskeidings vir reis en toerisme en vyf onderskeidings vir rekenaarstudie.

ADVERTISEMENT:
