

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 January 2007
Hulle sê elke visserman het altyd ‘n storie te vertel, maar in die geval van hengelaar mnr. Avhaathu Ntanga (51) van die Departement Korrektiewe Dienste in Thohoyandou is dit die vis wat ‘n storie het om te vertel.
Mnr. Ntanga het hierdie vis sowat drie weke gelede in die Levuvhurivier naby Makuya Park gevang. Hy het 37 minute gesukkel om sy vangs wal toe te bring. Hy sê in al die jare wat hy hengel, het hy nog nooit so ‘n vis gesien nie en, omdat hy nie geweet het wat dit is nie, het hy die vis gevries.
Verlede week het hy die koerant genader om te help bepaal watter tipe vis dit is. By navraag het prof. Ben van der Waal van die Universiteit van Venda se Departement Biologiese Wetenskap gesê dit lyk vir hom soos is Silwer Karp.
Prof. Van der Waal het verduidelik dat die destydse Direkteur van Natuurbewaring in die provinsie, wyle mnr. Feltus Brandt, en ‘n kollega van hom in die sewentiger jare in die vorige eeu die visse vanaf Taiwan ingebring het na ‘n teelplaas op Marble Hall. Daar is gepoog om die silwer en gras karp, van Indiese afkoms, te teel om te help met proteïenaanvullings vir mense in die destydse swart gebiede.
"Hulle het dit toe reg gekry om die vis te teel. Wat volgende gebeur het, is dat daar ‘n paar vloede was en van die vis het in die Arabiedam beland waar hulle ook suksesvol geteel het," sê prof. Van der Waal. Terselfdertyd het China begin met ontwikkelingswerk in Mosambiek waar hulle ook silwer en gras karpe geteel het by ‘n visteelstasie naby Xai-Xai.
"Jy kan nou kies. Hierdie vis kom of uit die Olifantsrivier vanaf die Arabiedam, waar hy sy weg gevind het tot in die Limpopo en vandaar in die Levuvhurivier beland het, of die vis kom uit die panne aan die onderkant van die Limpopo by Mosambiek. Die spesifieke plek waar die vis gevang is, word nou baie belangrik," sê prof Van der Waal.
"Hierdie is eintlik ‘n groot storie en die storie is dat hierdie uitheemse vis deur natuurbewaring self die land binnegebring is en wild begin teel het teen alle verwagtings in. Dit is ‘n nuwe rekord vir silwer karp in Suid Afrika wat verspreiding so ver die binneland in betref," het prof. Van der Waal gesê.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
