ADVERTISEMENT:

 

TLU SA waarsku teen gevaar van indringerplante

 

News  Date: 19 January 2007

 

"Lede van die publiek moet bewus wees van die plante wat as verklaarde onkruide en indringerplante geklassifiseer is."

So sê mnr. Dries Joubert, voorsitter van die TLU SA Noord. ‘n Brosjure wat deur die Pretoria munisipaliteit opgestel is, bevat waardevolle inligting in die verband.

Joubert sê ‘n gebied van meer as 10 miljoen hektaar, so groot soos KZN, is reeds ingedring. "Indringerplante verminder die beskikbaarheid van water, vervang natuurlike plantegroei en ontwrig natuurlike ekosisteme. Dit stel inheemse fauna en flora in gevaar. Groot saadbronne word veral in stedelike gebiede geskep," sê Joubert.

Volgens die Wet op Bewaring van Landbouhulpbronne, (Wet no 43 van 1983) is 198 van die meer as 25 000 uitheemse plante in Suid Afrika as verklaarde onkruide en indringerplante gelys. Die plante is in drie kategorieë ingedeel.

Kategorie 1 is verklaarde onkruide en moet deur alle grondgebruikers op alle land- of wateroppervlakte beheer word. Die plante mag nie geplant of vermeerder word nie en alle handel in hul saad, steggies of enige ander voortplantingsmateriaal is verbode. Dit sluit in die Lantana (Lantana Camara), Nagblom (Cereus jamacura), Motvanger (Araujia sericifera), Luisbos (Solanum mauritianum), Selonsroos (Nerium oleander) en Pampoengras (Cortoderia jubata).

Kategorie 2 plante is plante met hoofsaaklik kommersiële waarde. Dit is ’n indringerplant wat ’n bedreiging vir die omgewing inhou maar nogtans gebruik kan word vir hout, vrugte, brandstof, medisinale gebruik, voer, boumateriaal, skuiling of om grond te stabiliseer. Hierdie plante word slegs in beheerde gebiede toegelaat. As die plante kommersieel gebruik word, moet grondgebruikers ’n lisensie vir watergebruik kry omdat hierdie plante baie water verbruik. Plante in die kategorie is die Swartwattel (Acacia Mearnsii), Soetpeulboom (Gleditsia robusta) en die Gryspopulier (Populus X canescens).

Kategorie 3 plante is hoofsaaklik plante wat ornamentele waarde het. Volgens regulasie 15 van die WBL word hierdie plante slegs toegelaat in biologiese beheerreservate, of waar dit reeds ten tye van die regulasies (30 Maart 2001) voorgekom het. Dit beteken dat die grondgebruiker nie die bestaande plante hoef te verwyder nie, maar dit onder beheer moet hou. Geen nuwe aanplantings mag gedoen word nie en sulke plante mag nie verkoop word nie. Voorbeelde is Jakaranda, Sering, Australiese Silvereik, Swaardvaring en Liguster.

Die plante kan meganies of met chemikalieë verwyder word. Baie van die indringer plante kan meganies verwyder word of met behulp van eenvoudige gereedskap. Voëltjies versprei saad en die saailinge moet so gou as wat dit waargeneem word, uitgetrek word. Hoe langer die plante groei, hoe meer kos dit om die plante te verwyder. Daar is ook ’n wye verskeidenheid chemikalieë beskikbaar wat vir spesifieke plante beskikbaar is.

Vir meer inligting, besoek www.agis.agric.za/agisweb/wip of www.dwaf.gov.za/wfw/

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines