ADVERTISEMENT:

 

Hoe ry die (sous)trein ...

 

News  Date: 26 January 2007

 

Wat verdien die raadslede nou eintlik? En hoe groot was hulle verhogings?

Dis vrae wat menige belastingbetaler vra na die bekendmaking van die finansiële debakel van die Makhado Munisipaliteit rakende die raadslede se oorbetalings en verhogings waarvoor nie begroot is nie.

Die weerstand teen die verhoogde raadtoelaes en die manier waarop dit bereken en uitbetaal is, het skerp toegeneem na die bekendmaking van die PriceWaterhouseCoopers verslag.

Die burgemeester, wat ‘n deeltydse pos beklee, verdien tans meer as R36 000 per maand, R36 624.58 om presies te wees, saam met die voertuig- en telefoontoelae. Al die salarisse is voor aftrekkings. Voor die verhoging het die burgemeester ‘n ietsie oor die R16 000 per maand ontvang.

Die speaker, ‘n voltydse pos, verdien meer as R29 000 per maand (R29 511.08). Dit was voorheen net oor die R26 000.

Die hoofsweep, sowel as ‘n voltydse raadslid wat lid is van die uitvoerende komitee, verdien nou elke maand net oor die R27 700. Dit verteenwoordig ‘n verhoging van ‘n rapsie oor die R3 000 per maand. ‘n Deeltydse raadslid wat lid is van die uitvoerende komitee kry maandeliks bo R15 000, ook ‘n verhoging van amper R3 000.

Raadslede, van wie daar meer as 70 is, ontvang na die verhoging R11 330.25 per maand wat bestaan uit ‘n basiese salaris van R8 002.75, ‘n voertuigtoelaag van R2 667.50 en ‘n selfoontoelaag van R660. Tevore was raadslede se maandelikse vergoeding R7 056.71, dus ‘n verhoging van amper R4 000.

Normaalweg word mediese en pensioenbydraes afgetrek vanaf die bruto salaris, iets wat volgens me. Faith Muthambi, munisipale bestuurder slegs die afgelope twee maande foutief gedoen is.

Wat dink die belastingbetaler hiervan?

"Die feit dat die betalings ongemagtig en sonder die rugsteun van die nodige kontant gedoen is, laat die vraag ontstaan: wat doen ‘n raadslid dan om ongeveer R8 000 per maand plus vervoer en foontoelaes (asook medies en pensioen bydraes) uit my belastinggeld te verdien? Ek sal u sê: hy of sy moet een vergadering per kwartaal bywoon!" sê een belastingbetaler, mnr. Carel Breytenbach.

Breytenbach vra verder "Is die raadslede, en ek wil glo nie almal is daarby betrokke nie, nie dalk besig om ons belastings te steel op dié manier en om hulleself te verryk ten koste van die inwoners van die gebied nie? Kry ons as inwoners waarde vir die belasting wat ons betaal?"

Die belastingbetalers is ook besorg oor die R57miljoen skuld van die Raad en dit lyk of swak finansiële bestuur nie veel langer geduld gaan word nie. Die belastingboikot waarmee tevore al gedreig is, skyn al hoe nader te beweeg.

Nog ‘n belastingbetaler, me. Inga Gilfillan, beklemtoon dat die Raad moet onthou dat hulle met die publiek se geld werk.

Intussen het Raadslid Marie Helm ‘n skrywe aan die munisipale bestuurder gerig waarin sy vra dat haar toelaes sedert 1 Maart 2006 herbereken word sodat sy die oorbetaling kan terugbetaal. Rdl. Helm het hierdie week gesê dat sy nie deel wil wees van bedrog en korrupsie nie.

"Hoekom laat die raad hulle nie lei deur kundiges nie?"vra me. Inga Gilfillan. "Waarom doen hulle nie hul taak reg en opreg nie? Die publiek is moeg vir korrupsie…"

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines