

ADVERTISEMENT:

News Date: 26 January 2007
Duiwe was nog altyd een die mees algemene voëlspesies wat in Makhado (Louis Trichardt) aangetref is; tog het verskeie inwoners ‘n afname in hul getalle begin merk.
Die inwoners van Laat Lente en Herfsakker meen dat dit moontlik ‘n siekte of ‘n persoon kan wees wat die duiwe vergiftig. Volgens een van die inwoners by Laat Lente, me. Martie Heystek, is daar al verskeie dooie duiwe op die perseel opgetel. Sy het aan die Zoutpansberger gesê dat dit vir hulle ‘n groot bekommernis as inwoners is, aangesien hulle gereeld die duiwe voer en bewonder.
Daar is intussen al gepoog om van die dooie duiwe na ‘n veearts te neem om uit te vind waarom hulle vrek, maar volgens me. Heystek het nie een van die inwoners van Laat Lente die fondse om vir so ‘n ondersoek te betaal nie.
Me. Heystek het gesê dat sy self al ‘n duif oopgesny het in ‘n poging om die probleem vas te stel. Sy sê sy het gemerk dat die duif se ingewande verhard is en dat die dermpies baie verdun is. Wat die mees opsigtelik was, was die groen, slymagtige vloeistof wat in die duif se krop teenwoordig was.
Die Zoutpansberger het Dinsdag gaan praat met dr. Elana Conradie van die plaaslike staatsvearts se laboratorium om meer inligting te bekom oor wat dalk verantwoordelik kan wees vir die vrektes.
Dr. Conradie het gesê dat twee inwoners reeds by haar gekla het oor die probleem en dat sy vir hulle gesê het om die vars dooie duiwe na die laboratorium toe te bring, sodat toetse gedoen kan word. Sy sê niemand het egter tot nou toe enige dooie duiwe na die laboratorium gebring nie. Dr. Conradie het weer ‘n dringende beroep op inwoners gedoen om enige vars dooie duiwe of siek duiwe na haar te bring. Sy kan by die laboratorium geskakel word by 015 516 4971.

ADVERTISEMENT:
