

ADVERTISEMENT:

News Date: 26 January 2007
Die toename in die getal rooftogte in strate voor bankinstellings laat al hoe meer die vraag ontstaan of bankinstellings en sekuriteitsmaatskappye enigsins nog ontsag het vir menselewens.
In ‘n onlangse roof is ‘n sekuriteitsbeamptes voor ABSA Bank op die hoeke van Songozwi- en Kroghstraat in Makhado (Louis Trichardt) beroof. Geluk is niemand beseer nie. Dié voorval het weer die soeklig geplaas op die probleem van banke en sekuriteitsmaatskappye wat geld op- en aflaai by banke.
"Al wat banke en sekuriteitsmaatskappye doen is om die risiko’s wat met rooftogte gepaard gaan, af te skuif op die publiek. Wie sal verduidelik as daar skielik ‘n skietery uitbreek tydens ‘n roof en een, twee, drie, of selfs meer omstanders gedood of gewond word?" is die vraag wat algemeen deur baie inwoners gevra word. Dan is daar ook ongelukkigheid oor die "verkeersknope" wat deur sekuriteitsvoertuie veroorsaak word wanneer hulle sommer enige plek in die straat tot stilstand kom.
Mev. Jana Smith, voorsitter van die plaaslike sektormisdaadforum, het op navraag aan die Zoutpansberger gesê die huidige manier van die op- en aflaai van geld voor banke in besige strate is blatante nalatigheid. Sy sê lede van die publiek word onnodig in gevaar gestel. Volgens Smith het die polisie ook reeds verskeie kere hul ongelukkigheid oor die stand van sake uitgespreek.
Die Zoutpansberger het na aanleiding van toenemende publieke ongelukkigheid verskeie bankinstellings geskakel vir kommentaar. Een van die banke wat teen druktyd teruggeantwoord het, was Standard Bank.
Volgens mnr. Ross Lindstrom, ‘n woordvoerder van Standard Bank, is daar ‘n aantal faktore wat oorweeg moet word. Hy sê dat die wyse waarop geld vervoer word meestal bepaal word deur die uitleg van die bankgebou en dat bankgeboue van mekaar verskil. ‘n Ander faktor, sê Lindstrom, is of die eienaar van die gebou wat die bank huisves die bank sal toelaat om die nodige fasiliteite vir die op- en aflaai van geld te laat bou.
Wat Standard Bank betref, het Lindstrom gesê dat hulle die risiko van ‘n roof probeer beperk deur die hoeveelhede geld wat vervoer moet word kort-kort te verminder.
"Dit is banke se hoogste prioriteit om voldoende sekuriteit en veiligheid vir die publiek en hul personeel te verseker en dat hulle nooit doelbewus die gemeenskap in gevaar sal stel nie," sê Lindstrom.
‘n Paar sekuriteitsmaatskappye is ook genader vir kommentaar.
Volgens mnr. Steven Nortjé van die plaaslike Fidelity Springbok-tak het hulle al met die polisie geskakel om na oplossings te kyk om die probleem aan te spreek. Hy sê hulle het selfs vir die munisipaliteit gevra om te kyk na spesiale parkeerareas. Dit het tot gevolg gehad dat drie parkeerareas aaneen vir sekuriteitsmaatskappye op plekke aangebring is.
Mnr. Nortjé het verder die plaaslike tak van FNB geprys vir die fasiliteite wat by die bank geskep is en gesê dat dit heelwat gevare vir voetgangers en sekuriteitspersoneel uitskakel. Volgens mnr. Nortjé het Fidelity, in ‘n poging om rooftogte te beperk, begin gebruik maak van spesiale houers wat geld aan die brand kan laat slaan indien daar onregmatiglik met die houers gepeuter word. Daarbenewens sê hy dat sekuriteitsmaatskappye enige fasiliteit sal gebruik vir die op- en aflaai van geld indien banke, soos Eerste Nasionale Bank, dit beskikbaar stel.

ADVERTISEMENT:
