ADVERTISEMENT:

 

“De la Rey, De la Rey, sal jy die boere kom lei…” Lizelle Botha van Pretoria, suster van Anneke Stroebel, snuffel in die Skermustselingsmuseum by die Lalapanzi Hotel om meer oor Generaal Koos de La Rey uit te vind. Die belangstelling is so groot dat die Skermustseling en Erfenisstiging ‘n “Night of the Generals” beplan.

De la Rey, De la Rey ... weet besoekers wie is hy?

 

News  Date: 26 January 2007

 

"De la Rey, De la Rey, sal jy die boere kom lei…" Dié liedjie wat Bok van Blerk se kompaksyf al amper platinumstatus gegee het, het ‘n nuwe belangstelling in die geskiedenis laat ontstaan.

So het Lizelle Botha van Pretoria, wat die afgelope vakansie by haar sus, Anneke Stroebel, kom kuier het, die Skermustselingsmuseum by die Lalapanzi Hotel besoek.

"Ek wil meer van Generaal Koos de La Rey uitvind. Dis my tienerseun wat my vra," het Lizelle gesê terwyl sy in die museum rondsnuffel.

"Almal vra na Generaal Koos de La Rey," sê Inga Gilfillan van die Skermutseling en Erfenisstigting.

Die belangstelling is so groot dat die stigting besluit het om ‘n Aand van Generaals of ‘n Night of the Generals te hou op 31 Maart.

Koos de La Rey is die een generaal wat bekend gestel sal word. Hy staan in die geskiedenis bekend as die "grootste natuurlike soldaat wat Suid-Afrika nog opgelewer het.

"Gevegte soos dié by Magersfontein en Tweebosch (De Klipdrift) het De la Rey laat uitstaan as ‘n meester in stellingoorlogvoering en as ‘n uitsonderlike ruitergeneraal wat die vyand uitoorlê het," skryf die Oorlogsmuseum van Boererepublieke se samestellers van ‘n stuk oor Generaal Jacobus Herculaas de la Rey wat in 1847 in die Winburg distrik gebore is. Later het hulle gesin verhuis na die Wolmaranstad distrik. De la Rey het ook bekend gestaan as die Leeu van Wes-Transvaal.

Interessant is die feit dat De la Rey hom steeds beywer het vir diplomatieke, vreedsame oplossings en hom net as ‘n laaste uitweg na oorlog gewend het. Sy krygsgevangenes is met respek behandel.

Nog ‘n generaal wat herdenk sal word, is Brigadier Generaal CF Beyers wat ook die Zoutpansberg Kommando gelei het in die oorwinning teen die Britse magte by Vliegenpan op 2 Maart 1902.

Twee nuwe skilderye van generaals CF Beyers en Piet Joubert pryk nou in die museum. Die stigting is baie dankbaar vir hierdie waardevolle skenking deur Kobie en Bets Cronjé.

Nog ‘n skenking is ‘n replika van Grietjie, ‘n mobiele kanon met ‘n voorlaaier en ‘n slagpen wat deur die boere in die oorlog gebruik is. Hierdie replika is goedgunstiglik deur die Hoërskool Louis Trichardt aan die museum geskenk. Die museum spesialiseer in die tydperk van die tweede Anglo boereoorlog vanaf 1899 tot 1902.

Volgens Inga is dit dieselfde tipe kanon as dié wat met skepe vanaf Europa gekom het, reeds so vroeg as 1652. Dié soort kanon is Die Moordenaar genoem en is opgehys teen die maste van skepe om af te skiet na die vyandige skepe wat naby kom. "Ons replika is toegesweis en kan nie skiet nie," sê Gilfillan.

Pragtige en interessante botteltjies en ander porseleinstukke wat dateer uit 1900 is te besigtig by die museum. Gary Watkins word bedank vir sy moeite en geduldige arbeid hiermee.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines