ADVERTISEMENT:

 

Vyftien jaar tronkstraf vir twee Isofo-rowers

 

News  Date: 02 February 2007

 

Twee van die drie mans wat daarvan aangekla is dat hulle in Julie verlede jaar verantwoordelik was vir die gewapende roof by Isofo op Makhado (Louis Trichardt), sal die volgende 15 jaar van hul lewens agter tralies deurbring.

Emmanuel Ramujiki (21) van Tshikota en Solly Maluleke (30) van Turfloop is op Maandag, 29 Januarie, in die streekshoof hier skuldig bevind op die klagte. ‘n Derde verdagte in die saak, die 21-jarige Phillip Legoda van Seshego, is onskuldig bevind, aangesien hy nie met die misdaad verbind kon word nie.

Die hof moes tydens vonnisoplegging die twee skuldiges se persoonlike omstandighede in ag neem, soos wat die verdediging dit verduidelik het. Ramujiki was tydens die roof werkloos, terwyl Maluleke ‘n enkelouer van ‘n sesjarige kind is.

Die Staat het egter die verdediging se verduideliking van Ramujiki en Maluleke se persoonlike omstandighede teengestaan. Die Staat het ook gevra dat Ramujiki se vorige veroordelings van huisbraak met die opset om te steel en diefstal deur die hof in ag geneem moet word.

Tydens uitspraak is daar genoem dat die feit dat die twee beskuldigdes ‘n vuurwapen tydens die roof gebruik het, in ‘n baie ernstige lig gesien moet word. Ramujiki en Maluleke is beide ‘n vonnis van 15 jaar direkte gevangenisstraf opgelê, terwyl hulle ook onbevoeg verklaar is om ooit weer ‘n vuurwapen te besit.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines