ADVERTISEMENT:

 

Mnr. Thinus Roux met die beskadigde nommerplate in sy hand.

Inwoner nommerplaat kwyt by padblokkade

 

News  Date: 02 February 2007

 

‘n Provinsiale verkeersbeampte het verlede Vrydag, 26 Januarie, nuwe betekenis gegee aan die term "wetstoepassing" toe hy ‘n inwoner van Makhado (Louis Trichardt) se nommerplaat met ‘n skroewedraaier afgeruk het, omdat die nommerplaat volgens hom onwettig is.

Volgens mnr. Thinus Roux is hy en sy vrou Vrydagaand op pad terug na Louis Trichardt gewees, toe hulle by ‘n padblokkade tussen Mokopane en Polokwane gestop is. ‘n Verkeersbeampte het nadergestap en mnr. Roux meegedeel dat sy "persoonlike" nommerplaat met die naam "Thinus" daarop, onwettig is. Die rede aangevoer deur die beampte was dat die nommerplaat nie die groen en wit golflyntjies bevat het soos deur die wet vereis word nie.

Die beamptes het begin met die uitskryf van ‘n boetekaartjie waarop mnr. Roux gevra het volgens watter wet hulle aangekla word. Hierop, sê mnr. Roux, het die beampte gestop met die uitskryf van die kaartjie en mnr. Roux meegedeel om dadelik die nommerplaat te verwyder. Die beampte het toe sommer self ‘n skroewedraaier gegryp en die nommerplate met geweld begin afruk. Die nommerplate is aan mnr. Roux teruggegee en hy is aangesê om verder te ry.

Volgens mnr. Roux het hy na die onderneming gegaan wat sy nommerplate laat druk het. Hier is hy meegedeel dat hulle geen kennis dra van nommerplate met groen en wit golf lyntjies nie. Nou wil mnr. Roux graag nuwe nommerplate laat opsit, maar weet nie wat die regte storie is nie. Die vorige keer het dit hom R1 600 gekos.

Die Zoutpansberger het Maandag die provinsiale verkeersafdeling geskakel vir kommentaar.

Volgens mnr. Obede Langa, ‘n woordvoerder van die provinsiale verkeersafdeling, is daar wel ‘n wet wat vereis dat privaat nommerplate op plate gedruk word met groen en wit golflyne. Hy het gesê dat die verkeersbeampte se gedrag moontlik deur provokasie veroorsaak is, aangesien hulle ook net mense is wat kan kwaad word. Mnr. Langa het gesê dat hy nie ten tyde van die voorval teenwoordig was nie en dat mens nooit verseker sal wees wat veroorsaak het dat die beampte so opgetree het nie. Daar is egter wel inligting ontvang dat die provinsiale afdeling se anti-korrupsie afdeling die saak ondersoek.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines