

ADVERTISEMENT:

News Date: 02 February 2007
‘n Paar amptenare van die poskantoor op Makhado (Louis Trichardt) moes Vrydag, 26 Januarie, maar self sweet om die posbuslokaal oorkant die landdroshof weer in ‘n skaflike toestand te kry.
Dit volg nadat die Makhado Munisipaliteit geweier het om die lang gras en bosse by dié poslokaal te sny. Die lang gras het verder veroorsaak dat posbushuurders begin weier het om hul posbusse te hernu, aangesien baie van hulle die lang gras as ‘n veiligheidsrisiko begin bestempel het.
Volgens ‘n woordvoerder van die poskantoor het die poskantoor verskeie kere met die munisipaliteit gaan praat oor die probleem, maar geen reaksie ontlok nie. Tydens ‘n laaste gesprek met die munisipaliteit is die poskantoor deur ‘n munisipale amptenaar ingelig dat hulle (die munisipaliteit) ‘n kontrakteur sal kry om die gras te sny en dat hulle die poskantoor verantwoordelik sal hou vir beide die sny- en administratiewekoste. Hierdie verwikkeling was totaal onaanvaarbaar vir die poskantoor wat sê dat die munisipaliteit nog altyd verantwoordelik was vir die skoonhou van die perseel.
Verlede Vrydag het amptenare van die poskantoor egter besluit genoeg is genoeg en self ingespring en die perseel weer skoon en netjies gemaak. Dit het onwillekeurig die vraag by die amptenare laat ontstaan of daar nog voortgegaan moet word om vir dienste te betaal wat nie gelewer word nie. Ook in ander dele van die dorp, soos tussen Hlangananistraat en die N1, het inwoners maar self begin om die lang gras tussen die paaie te sny.
In reaksie het die munisipaliteit se Direkteur Tegniese Dienste, mnr. Masindi Mapholi, gesê hy is baie jammer oor die misverstand tussen hulle en die poskantoor. Hy sê hy is doodseker daarvan dat dit wel die munisipaliteit se verantwoordelikheid is om die perseel in stand te hou, maar dat hy net eers moet seker maak.
Mnr. Mapholi het gesê dat die munisipaliteit tans ‘n probleem ondervind met toerusting wat of verouderd is, of buite werking is. Hy sê egter die munisipaliteit het heelwat nuwe toerusting aangekoop.
Buiten vir ‘n probleem met toerusting, sê mnr. Mapholi dat die onlangse reënval ook bydra tot die probleem omdat die gras baie vinniger groei as normaalweg. Dit wil dan voorkom asof die gras lanklaas gesny is. Mnr. Mapholi het inwoners gevra om geduldig te wees, terwyl die munisipaliteit hul probleme uitsorteer.

ADVERTISEMENT:
