ADVERTISEMENT:

 

Is onkruiddoder rede vir kremetart vrektes langs N1?

 

News  Date: 02 February 2007

 

Ernstige kommer heers oor die veiligheid van kremetartbome langs die N1, nadat ‘n opname getoon het dat bome besig is om te vrek – vermoedelik weens die nawerking van onkruiddoder.

Tekens van ernstige omgewingskade is sigbaar waar kontrakteurs die afgelope maande besig is om jong opslagboompies in die padreserwe langs die N1 vanaf die Soutpansberg tot by Messina met onkruiddoder te bespuit.

Dié omgewingskade kom op plekke tot sover as 20 meter vanaf die padreserwe op private grond langs die pad voor vanaf die Soutpansberg tot by die Blaauwkop omgewing - ‘n afstand van nagenoeg 40km.

‘n Deskundige wat die afgelope weke ondersoek na die skade ingestel het, sê die simptome van die boomvrektes en die effek op die plante en grond om die boompies dui op ‘n doder wat moontlik Bromacul bevat. Die kenner van landbou gifstowwe, mnr. Karel Breytenbach, sê Bromacul is in die landbou en in die handel bekend vir sy aggressiewe doodaksie, asook sy grondsteriliseringseffek. Afhangende van die formulasie en dosis gebruik, kan ‘n stuk grond vir langer as 10 jaar beroof word van enige plantegroei weens die nawerking van die doder.

Ou, dooie, gryskleurige grasreste met groen gras op die soom van die kolle is ‘n seker teken dat ‘n aggressiewe doder soos Bromacul gebruik kon gewees het, omdat die gras nie vrot nie en ook nie deur termiete aangeval word nie as gevolg van die steriliserende effek van die doder op die omgewing waar dit toegedien word.

"Dit is letterlik ‘n vernietigende kanker kol in die natuur wat deur die mens toegedien word," sê Breytenbach.

"Ongelukkig het baie van die doders die neiging om buite die omgewing van toediening uit te spoel of uit te loog na aangrensende gebiede tydens reënbuie, veral as die toediening nie geskied volgens etiketvoorskrifte nie, wat faktore soos die klei-inhoud van die grond, vermenging, dosis en so meer in ag neem. Verder moet onthou word dat veral ‘n boom se wortels nie beperk is tot slegs ‘n meter of twee om die stam nie. Die wortels kan, afhangende van boomgrootte, 30 meter en meer vanaf die stam self groei."

Tydens die opname is gevind dat verskeie waardevolle inheemse boomspesies, wat maroelas en doringbome insluit, besig is om oor afstande van tot 20 meter vanaf die padreserwe te vrek

"Die hartseer van die hele prentjie is onder meer "jong" kremetartbome wat ook vergiftig is en waarvan die wortels die gif waarskynlik weens loging opgeneem het. In kremetartjare is die plante nog jonk, maar gemeet in mensejare is van die plante na raming tussen 100 en 150 jaar oud," sê Breytenbach.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines