

ADVERTISEMENT:

News Date: 01 October 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Die Makhado Munisipaliteit se “amper bankrot”-status het die afgelope week vrae laat ontstaan oor hoe lank die munisipaliteit nog sal kan voortgaan om noodsaaklike dienste te lewer.
Nuus dat die Raad inderhaas moes aansoek doen vir ‘n oortrokke fasiliteit om hul maandelikse salarisrekening van digby die R4 miljoen rand te betaal het soos ‘n veldbrand versprei. Teen druktyd was daar nog geen definitiewe aanduiding hoeveel van die Raad se amptenare en personeel al betaling vir die maand ontvang het nie. Wat wel genoem word is dat die munisipale direkteure eerste in die ry gestaan het om betaling te ontvang.
Die nuus van die Raad se haglike finansiële toestand het egter vir baie nie as ‘n verrassing gekom nie. Dit was weliswaar ‘n geval van: “Ons het dit mos voorspel.” Met die huidige Raad se oorname sowat drie jaar gelede was daar sowat R21 miljoen in reserwes beskikbaar en het die Raad geen skuld gehad nie. Sedertdien het die Raad letterlik miljoene verkwis op vrugtelose “projekte” met niks om daarvoor te wys nie. In een geval het ‘n besoek aan China die belastingbetaler honderde duisende rande uit die sak gejaag met ‘n belofte van miljoene rande se ontwikkeling in die dorp. Tot op hede is al wat die Raad kan wys vir hul “belegging” ‘n omheinde industriële erf met ‘n sinkstoor daarop.
Dan is daar die kwessie van buitensporige hoë jaarlikse bonusse vir die Munisipale Bestuurder, mnr. Reuben Rambado, en sy sewe voltydse direkteure. Die wettigheid van Rambado se R110 000 bonus verlede jaar is van meet af aan betwyfel, maar ten spyte hiervan is bonusse ten bedrae van net oor die R600 000 sowat twee maande gelede weer aan Rambado en sy direkteure oorbetaal. Rambado is kort voor dit met volle betaling geskors te midde van korrupsie-ondersoeke. Dit blyk egter dat sy skorsing ‘n reeds benarde situasie slegs verder laat versleg het.
Intussen doen gerugte die rondte dat die Raad die afgelope paar maande van “skenkings” gelewe het. Een skenkingsbedrag wat genoem word is sowat R11 miljoen wat vir die Raad se Heropbou en Ontwikkelings Projek (HOP) bestem was. Die laaste van dié bedrag is na bewering verlede maand gebruik om salarisse mee te betaal. So word baie ander voorbeelde genoem, soos die Raad se volgehoue maandelikse betaling van onwettige selfoontoelaes aan elk van die Raad se meer as 70 raadslede, ten bedrae van R500 elk.
Uit die Raad se eie dokumentasie lyk hul situasie nog meer benard. Dit blyk duidelik ingevolge ‘n raadsitem wat as ‘n “konfidensiële” dokument klaarblyklik per ongeluk aan lede van die publieke galery uitgedeel is tydens verlede Donderdagaand se raadsvergadering. Die item beskryf die gebeure wat aanleiding gegee het tot die Raad se aansoek om ‘n oortrokke fasiliteit.
In die inleidingsparagraaf word genoem dat die Raad teen einde September met R4 miljoen oortrokke sal wees. Die redes hiervoor is klaarblyklik die aankoop van grootmaat elektrisiteit ten bedrae van R5,5 miljoen vanaf Eskom die afgelope maand. Die normale bedrag beloop R3 miljoen per maand. Dan word daar ook bedrae van miljoene rande genoem wat onder meer deur staatsinstansies aan die Raad geskuld word. Die dokument dui ook aan dat die Raad nog nie daarin kon slaag om sowat R32,7 miljoen in agterstallige betalings van verbruikers en ander skuldenaars kon invorder nie. Daar word ook genoem dat die Raad tot op hede nog nie ‘n sent kon invorder ingevolge hul R10-heffings in buitegebiede nie, alhoewel die Raad begroot het vir die geld. ‘n Paar jaar gelede moes die Raad sowat R8 miljoen afskryf aan slegte skuld toe ‘n soortgelyke “projek” misluk het. Baie voel dat die Raad geweet het hulle gaan nie die geld kan invorder nie, maar steeds voortgegaan het om dit as ‘n inkomste in hul begroting te reflekteer.
Dit blyk ook duidelik uit die kommentaar van die verskillende departemente dat daar nie sekerheid is oor hoe die Raad die oortrokke fasiliteit gaan terugbetaal nie, aangesien dit nie oorgedra kan word na ‘n volgende finansiële jaar nie. Ernstige kommer word ook uitgespreek oor die bevoegdheid van die Raad se finansiële departement om slegte skuld in te vorder. Daar word selfs sover gegaan om die skuld vir die Raad se haglike finansiële toestand direk voor die deur van die Raad se hoof finansiële beampte te plaas. Dit word genoem dat die Raad se Direkteur Finansies, mnr. Dan Masengana, en sy Bestuurder Finansies ‘n verleentheid vir die Raad veroorsaak het.
Die geregverdigheid van laasgenoemde standpunt is egter betwisbaar. Baie voel dat die Raad in sy geheel moet pa staan vir die finansiële krisis en dat die skuld nie aan een enkele persoon toegedig kan word nie.
In reaksie op die gebeure van die afgelope week het mnr. James Shikwari, streeks- en plaaslike voorsitter van die vakbond SAMWU (Suid-Afrikaanse Munisipale Werkers-unie), geëis dat die Raad onmiddellik moet ontbind en onder administrasie geplaas word. Hy sê SAMWU-lede se moraal is in hierdie stadium baie laag en dat hulle uiters teleurgesteld is in die Raad. Shikwari het gesê hy is seker dit is nié die manier waarop ‘n munisipaliteit bestuur moet word nie.
“Wat van volgende maand of selfs Desember,” het hy opgemerk. Hy was daarvan oortuig dat die Raad se finansiële status nie vinnig gaan verbeter nie.
Ook in reaksie het me. Charmaine de Waal, plaaslike woordvoerder van Imatu (In-dependant Municipal and Allied Trade Union), gesê sy twyfel of die chaotiese finansiële toestand van die Raad binnekort gaan verbeter. Sy sê egter dat daar duidelike tekens die afgelope week was dat die Raad alles in die stryd werp om slegte skuld te delg.
De Waal het gesê dat sy nie so ver sal gaan om te sê die Raad moet onder administrasie geplaas word nie. Volgens haar kan die probleem voor die deur van swak bestuur geplaas word – veral beamptes in die finansiële departemente wat nie hul werk behoorlik doen nie. De Waal het egter saamgestem dat te veel geld op onbenullighede spandeer is. Sy het ook opgemerk dat, alhoewel daar probleme was voor die skorsing van mnr. Rambado, die kaarthuisie heeltemal inmekaargestort het na die skorsing. De Waal sê alhoewel die waarnemende Munisipale Bestuurder, Faith Muthambi, duidelik nie die mas opkom nie, sy wel baie hard probeer.
Rdl. Marie Helm van die Demokratiese Alliansie het ook gereageer en gesê dat die DA die afgelope paar maande herhaaldelik die Raad gewaarsku het om te stop met hul oormatige spandering. Sy sê dat die ANC-raad in ‘n periode van slegs vier jaar daarin kon slaag om ‘n winsgewende “besigheid” te omskep in ‘n bankrot Raad.
(Die Raad is Maandag deur die koerant genader vir kommentaar. ‘n Vraelys met spesifieke vrae oor baie van die aspekte wat in dié artikel verskyn is deurgestuur met erkenning van ontvangs. Teen druktyd was daar nog geen terugvoer vanaf die Raad nie. Die Direkteur van Korporatiewe Dienste, mnr. Peter Magwala, het wel Dinsdag gesê dat slegs die burgemeester, rdl. Rhulani Nkuzana, kan antwoord, maar dat hy tans op nog ‘n “besoek” in die Kaap is.)
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
