ADVERTISEMENT:

 

Polisie skiet verdagte in Pretorius-moord dood

 

News  Date: 09 February 2007

 

Lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens het Saterdag, 3 Februarie, ‘n verdagte in die gru-moord van mev. Ria Pretorius doodgeskiet.

Die 44-jarige mev. Pretorius is op 2 Januarie sowat 2km buite Makahdo (Louis Trichardt) op die Thohoyandoupad van sowat R75 000 beroof en verskeie kere geskiet.

Die verdagte, wat volgens inligting in die kriminele wêreld as Snowy bekend was, is by Mpheni naby Waterval doodgeskiet. Hy het weggehardloop nadat hy deur lede van die polisie gekonfronteer is. Die polisie het waarskuwingskote afgevuur. Die verdagte het na bewering omgedraai en teruggeskiet, waarna hy gedood is. Later sou dit aan die lig kom dat die oorledene verbind word met die gewelddadige gewapende aanval op die Marcos-egpaar van Foodzone op 29 April verlede jaar. ‘n Dienspistool, wat volgens inligting in 2004 van ‘n polisiebeampte geroof is, is in die oorledene se besit gevind.

Volgens kapt. Mashudu Malelo, polisiewoordvoerder in die Vhembe-streek, is daar ook ‘n ander verdagte die naweek aangekeer in verband met die moord op mev. Pretorius. Hy is aangekeer nadat moord-verdagte Pophi Mudau (36), wat reeds in aanhouding is vir die moord op mev. Pretorius, inligting aan die polisie verskaf het. Die ander verdagte, ‘n 34-jarige man, het op sy beurt inligting gegee van die verdagte wat by Mpheni doodgeskiet is.

Mudau en die 34-jarige ander verdagte sal op Vrydag, 23 Februarie, weer hier in die hof verskyn.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines