ADVERTISEMENT:

 

Dorp neem voortou in geveg oor naamsveranderinge

 

News  Date: 09 February 2007

 

Die Voorsittersvereniging doen baanbrekerswerk. Die regsproses wat gevolg het nadat daar beswaar gemaak is teen die verandering van die dorp se naam, het sy loop geneem en trek nou al by die appèlhof in Bloemfontein. Die appèlsaak word op 19 Februarie aangehoor.

Die VV maak beswaar teen die ondemokratiese wyse waarop die prosesse van die naamsverandering van Louis Trichardt na Makhado hanteer is.

Louis Trichardt is derhalwe die voorste in die land met die regsproses van besware teen die ondemokratiese prosedures wat by naamsverandering gevolg word.

Stede en dorpe, soos die voormalige Pietersburg en Warmbad, het al aangeklop vir raad. Die vakbond Solidariteit het ook al die VV genader om die betoogshoofde wat hulle in die hofstukke gebruik, te kry met die oog op die regering se naamsverandering van Pretoria.

Onlangs was Solidariteit se AfriForum in die nasionale nuus toe die uitvoerende hoof, Kallie Kriel, ‘n paneel van Afrikaner geskiedkundiges en akademici aangebied het om die minister van Kuns en Kultuur, mnr. Pallo Jordan, te help met die proses van naamsverandering. AfriForum het die minister met regsaksie gedreig indien daar nie aan hul versoek voldoen word nie. Die naamsverandering van Pretoria en Potchefstroom is spesifiek genoem.

AfriForum fokus klaarblyklik meer op die Afrikaner kultuurgroep se belange, terwyl die VV verskillende kultuurgroepe insluit, soos Engelse, Afrikaners, Shangaans, Indiërs en die Buysgroep.

"Vir die VV gaan dit oor demokratiese en deursigtige prosesse. By die naamsveranderingsproses is minder as een persent van die mense gekonsulteer. Dit is glad nie ‘n demokratiese of deursigtige proses nie," sê mnr. André Naudé, voorsitter van die VV.

Mnr. Naudé sê dat die naamsaak heelwaarskynlik ‘n saak gaan wees wat nuwe reg skep. Die saak word in die reg gerapporteer en word dan ‘n saak wat ‘n presedent skep vir ander sake.

Op 19 Februarie is die advokaat vir die VV adv. Denny van Zyl, wat ook die saak in die hooggeregshof in Pretoria op 18 en 19 Augustus behartig het. Die advokaat vir die respondente is weer senior advokaat Sam Maritz. Die betoogshoofde van beide kante is reeds vooraf ingedien. In die appèlhof sal die advokate die vyf appèlregters toespreek oor die saak. Daar word nie getuies aangehoor nie. Die saak behoort in een dag in die hof afgehandel te wees.

Nadat die saak op 18 en 19 Augustus, 2005, in Pretoria aangehoor is, het Regter MK Legodi op 8 September uitspraak gegee en die VV se hofaansoek om die naamsverandering te hersien van die hand gewys. Die VV het appél aangeteken waarna Regter Legodi verlof tot appél toegestaan het omdat die saak van nasionale belang is.

Mev. Inga Gilfillan, sekretaresse van die VV, het belangstellendes wat wil saamgaan Bloemfontein toe om die saak aan te hoor, gevra om met haar in verbinding te tree sodat groepvervoer dalk gereël kan word.

"Louis Trichardt neem leiding in die land en dit behoort baie interessant te wees om die saak aan te hoor," sê Gilfillan. Sy kan geskakel word by 072 509 3939.

Mnr. Naudé, wat ook die prokureur is wat die saak behartig, mag uit die aard van die saak geen mening gee oor die uitslag van die saak nie. Die VV sê slegs dat hulle vermoed dat daar na afloop van die saak meer duidelikheid sal wees oor die prosesse wat gevolg moet word om ‘n naam te verander. Daar word bespiegel dat, as uitspraak in die guns van die VV gegee word, dit sou beteken dat daar erkenning gegee word aan die demokratiese reg van burgers om gehoor te word. Die dorp het dan weer sy oorspronklike naam terug en daarvandaan kan behoorlike demokratiese prosesse gevolg word.

Die VV het weer beklemtoon dat hulle ‘n nie-politiese vereniging is wat ongeveer 70 000 swart mense, meer as 4 000 Indiërs en kleurlinge en 10 000 blankes verteenwoordig.

"Elke burger se demokratiese reg moet gerespekteer en erken word. Tydens die jongste grondbelastingkwessie is daar weer nie behoorlik gekonsulteer nie. Daar is ‘n totale onsensiwiteit by die politieke leiers vir die standpunte van die publiek. Hulle trap op die regte van die samelewing," sê Naudé.

Mev. Inga Gilfillan se kontaknommer is 072 509 3939.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines